Dit is die kern van Jou MASE taal, ’n nuwe dokumentêre reeks wat op 21 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin. Die reeks ondersoek bruin en swart Afrikaanssprekendes se ingewikkelde verhouding met Afrikaans: hoe hulle dit leef, hoe dit hulle laat voel en of hulle dit omarm of verwerp.
Romantha Botha, inhoudsvervaardiger van dié dokumentêr en wie se idee die projek aanvanklik was, verduidelik: “Die idee vir die dokumentêr het ontstaan uit my frustrasie met die manier hoe oor Afrikaans gepraat word – veral onder bruin en swart Suid-Afrikaners. As ek nog een keer moes hoor: ‘Haai, jy praat so mooi Afrikaans’ of dat dit ’n ‘onderdrukkerstaal is waarmee ons moet wegdoen’, sou ek mal raak. Ek het geweet Afrikaans is baie meer as dit, en ek wou die ander stories vertel van die mense wat die taal lewendig hou.”
Bekende en uiteenlopende stemme deel hul ervarings: Fatima Abdool, Moenier “Monox” Adams, Terry-Ann Adams, Stephanie Baartman, Allan Boesak, DJ Ready D, Christo Davids, Jitsvinger, Rozanne McKenzie, Blaq Pearl en vele meer. Hulle stories word verweef met insigte uit gemeenskappe en menings van kenners en politici om ’n veelkantige blik op Afrikaans te gee.
“Ons wil hê kykers moet op ’n nuwe wyse na Afrikaans kyk – hetsy dit uit ’n wit, bruin of swart perspektief is,” sê die vervaardiger Clorinda Koert. “Die reeks bied ’n ryk oorsig oor Afrikaans in al sy wonder en ook omstredenheid, en ons hoop kykers bemagtig hulleself met kennis om die taal te koester en beskerm vir die volgende generasie.”
Vir die regisseur van die reeks, Stephanie Pekeur, was dit ’n groot uitdaging – en ’n nog groter voorreg: “Die rol van regisseur was terselfdertyd opwindend en senutergend. Ek wou ’n outentieke produk maak wat die kyker laat dink, praat en voel. Ek hoop die reeks lei tot oop en eerlike gesprekke, waar mense mekaar ten minste probeer verstaan. Die reeks het my ook forseer om ’n interne dialoog te hê om te verstaan hoekom ek sulke sterk gevoelens oor sekere aspekte van Afrikaans het.”
Die dokumentêr begin deur ’n verskeidenheid sprekers se intieme verhouding met Afrikaans te ondersoek – ’n taal van liefde én verset. Van alledaagse omgangstaal en kreatiewe uitdrukking tot die geskiedenis van die Soweto-opstande in 1976, wys die eerste episode hoe Afrikaans beide gebroke harte en trots dra. Daarna word die impak van Standaardafrikaans in die onderwys ondersoek, met eerlike insigte van onderwysers, kenners en leerders oor hoe die vorm van die taal wat as “aanvaarbaar” beskou word, kinders se akademiese prestasie en hul verhouding met Afrikaans kan beïnvloed.
Die dokumentêr kyk ook na die rol van Afrikaans in die werksplek, waar code-switching dikwels die brug of hindernis word, en ondersoek hoe bruin en swart Afrikaanssprekendes aanpas en wat dit vir hul identiteit beteken.
In die finale episode val die fokus op die politiek van Afrikaans. Die geskiedenis van die taal, die maniere waarop dit gebruik is om te verdeel, en die vrae oor hoe dit in die toekoms kan verenig, skep ongemaklike maar noodsaaklike gesprekke wat kykers sal aanmoedig om saam te dink en gesels.
“Ek hoop dat meer mense sal gesels oor die potensiaal van Afrikaans eerder as om dit in te boks. Omdat dit so ’n jong taal is waartoe soveel kulture bydra, is daar nie plek vir taalpuriste nie. Ons moet nou begin dink aan die toekoms van Afrikaans en die behoud daarvan net soos wat mense dit gebruik in hulle huise. Variante is kulture – kulture wat deur mense geskep en ontwikkel word. En gesprekke oor hoe ons daai variante opteken vir ons nageslagte is wat ek hoop aan die gang gesit sal word,” sê Romantha.
Jou MASE taal word deur IdeaCandy vervaardig wat verantwoordelik is vir dokumentêre soos Steinheist, Station Strangler, Tracking Thabo Bester, Onthul, Karbrasse en Devilsdorp.
- Jou MASE taal bestaan uit vier episodes van 60 minute elk. Die reeks begin Sondag 21 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.