kyknet channel logo

Ysters mik dié keer na putjies op die platteland

Nuus16 September 2025
Ná twee suksesvolle seisoene van Ysters op die landgoed keer die gewilde gholfreeks terug – hierdie keer met ’n splinternuwe invalshoek en vars energie.
Ysters op die platteland

Ysters op die platteland, wat 4 Oktober op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, vier die stories, mense en gemeenskappe van Suid-Afrika se pragtige platteland.

Waar Ysters op die landgoed die fokus op die luukse leefstyl en ryk tradisies van ons bekendste landgoedere laat val het, neem die nuwe reeks kykers na die ander kant van die spektrum – na kleiner dorpies en gemeenskappe, waar gewone mense ’n buitengewone rol in die volhoubaarheid van die platteland én in die toekoms van gholf in Suid-Afrika speel.

Die aanbieders, Herman Watney, Johnny Davids en Alwyn Hollenbach, vat kykers saam op ’n ontdekkingsreis na plekke wat dikwels oor die hoof gesien word. Dorpies soos Swellendam, Montagu, Jacobsdal en Ceres kry die geleentheid om hul verborge juwele af te wys – meestal onopgesmukte negeputjie-gholfbane wat met toewyding, passie en harde werk in stand gehou word. Hierdie bane is egter méér as net sportterreine: Dit is ontmoetingsplekke, ankers van gemeenskapsgees en simbolies van die unieke gasvryheid waarvoor die platteland bekend is.

“Hierdie bane en dorpies is die ware ankers van ons platteland,” sê Herman Watney, uitvinder, inhoudsvervaardiger en mede-aanbieder van die program. “Dis belangrik dat hulle bly voortbestaan – nie net vir die spelers nie, maar vir die hele gemeenskap.”

In elke episode beleef kykers saam met die gholfbaan die mense agter die skerms – van die plaaslike klublid wat elke dag self die gras sny, tot die gesinne wat deur die klubs saamgebind word. Die reeks eer die onvertelde stories en die onbaatsugtige toewyding van gewone Suid-Afrikaners wat deur hul liefde vir gholf ’n hele dorp aan die lewe hou.

Ysters op die platteland is meer as ’n program oor gholf – dit is ’n reis na die hartklop van ons land. Die reeks moedig kykers aan om die onbekende te verken, plaaslike ondernemings te ondersteun en die waarde van klein dorpe en hul mense raak te sien.

Ysters op die platteland begin Saterdag 4 Oktober om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.