Daar is verskeie nuwe programme – soos nuwe seisoene van Magda Louw, Hannes aan huis, Wie word ’n miljoenêr? en Jan Braai – en volop drama en aksie in Die nuusmakers en Die brug 2.
En ons het ’n nuwe alleenloper vir Op my eish!
kykNET
Op my Eish!
Ruan Smith, voormalige professionele rugbyspeler en een helfte van die bekende Smith-tweeling, is die nuwe alleenloper in kykNET se gewilde realiteitsreeks, Op my eish!
Ruan, wat verlede jaar amptelik uit die professionele rugbywêreld getree het, sien sy deelname aan die program as ’n kans om liefde via ’n ander roete te vind. “My vorige verhoudings het nie uitgewerk nie, en die geleentheid is perfek om uit my gemaksone te kom en ’n alternatiewe manier te probeer.”
Inskrywings vir die nuwe seisoen van Op my eish! is tans oop.
Die nuusmakers
1 Julie
Adri se kleinniggie, Zené sluit aan by die nuuskantoor, en Adri se persoonlike ondersoek gaan voort. Adri begin met terapie, maar Daniël sukkel om sy ma se keuses te aanvaar.
8 Julie
Adri en Daniël vind uit wie die vrou in die motor was en probeer vasstel wat haar verhouding met Dawid was. Melanie probeer haar posisie by Almal Afrikaans afdwing.
15 Julie
Sonia en haar kinders kruip weg, en Adri probeer haar bes om Sonia aan die praat te kry.
22 Julie
’n Terugblik na Dawid se aftreepartytjie wys hoe die notaboek in sy besit beland het. Die fluitjieblaser-storie maak opslae, en Adri wonder of dit nie dalk bo haar vuurmaakplek is nie.
29 Julie
Adri en Sonia ontmoet, en Sonia hou vol dat wat gebeur het die aand van Dawid se dood, net ’n ongeluk was. Adri stel ’n taakspan saam om die fluitjieblaser-storie deeglik te ondersoek.
Die nuusmakers is Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Die brug 2
3 Julie
’n Onverwagse magspel vind plaas wat die hele speletjie op sy kop keer. Niemand het dit sien kom nie, en niemand is reg vir die uitkoms nie.
10 Julie
Die huise word gesê om vir nuwe leierskap te stem, maar op ’n eienaardige manier: Noordhuis gaan die nuwe leier kies in Suidhuis, en Suidhuis die nuwe leier in Noordhuis.
17 Julie
Wanneer die nuwe leierskap ’n geleentheid kry om wraak te neem, gaan hulle dit doen? En watter vorm gaan hierdie wraak aanneem?
24 Julie
Een van die huise bereik die eiland, maar toe hulle die skatkis wil opeis, ontdek hulle die grootste kinkel van Die brug 2.
31 Julie
Die einde is in sig. Wie van die oorblywende spelers is die waardigste kandidaat om uiteindelik oor die brug te stap en die skat op te eis? En gaan die wenner die geld met die res van die span deel?
Die brug 2 is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream beskikbaar.
Nuwe seisoen van Magda Louw op pad
Dié geliefde kat (of is dit in hierdie geval die hond?) kom weer. Die derde seisoen van Magda Louw is om die draai, en daar gaan beslis gelag word. Dalk ook ’n traan of twee tussendeur gepink word.
“Magda bevind haarself al weer in situasies wat sy nooit sou kon voorsien nie. Daar is ’n paar skokonthullings uit die verlede, ’n klomp ou gesigte en ook een of twee nuwes,” verklap Desiré Gardner oor wat kykers van die derde seisoen kan verwag.
Elke hond kry sy dag op die stel. Letterlik in die geval van Magda (vertolk deur Desiré) en Erhard (Hannes van Wyk) se nuwe hondjie, Genis. Vir Desiré was daar groei in die reeks sedert die eerste seisoen omdat van die alledaagse uitdagings van die lewe in meer diepte verken word.
“Ek gesels met baie mense oor hulle vrese, die dinge wat hulle laat lag, huil, wakker hou in die nag – al daardie dinge waarvan jy nie kan ontsnap nie. Ek probeer dit meer inwerk in die alledaagsheid van Magda se lewe. Die tragedie en tydelikheid van die lewe, vervleg met die mooi en die lekker en die lag.”
Desiré glo dat die kykers aanklank vind by Magda Louw omdat hulle ’n stukkie van hulself in van die karakters herken. Sy skryf dit ook toe aan ’n tikkie nostalgie en dat kykers vir ’n wyle van alles kan ontvlug en saam kan lag.
“Die regte lewe kan soms so oorweldigend raak. Ek hoop dat kykers sal lag en terselfdertyd ook ’n bietjie oor dinge sal nadink.”
Die derde seisoen van Magda Louw word vanaf Maandag 14 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks se hoofrolverdeling bestaan weer uit Gerswin Mias as Shaun, Bennie Fourie as Baltus, Cindy Swanepoel as Getrude en André Weideman as Dr. Havenga. Magda Louw sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Dis weer tyd vir Wie word ’n miljoenêr?
Wie word ’n miljoenêr? gaan nogmaals vir vuurwarm vermaak sorg met Rian van Heerden se uitknikkervrae wanneer dit op 2 Julie na kykNET terugkeer. En die groot vraag natuurlik: Gaan iemand weer soos in die vorige seisoen met die volle R1 miljoen huiswaarts keer?
In hierdie vyfde seisoen is daar ook weer ’n episode met bekendes, vanuit uiteenlopende velde, wat hul algemene kennis gaan inspan om fondse vir liefdadigheid te wen. Hulle is Karlien van Jaarsveld, Dean Smith, Jannie du Plessis, Pietie Beyers, Nicole Holm en Tracey-Lee Oliver.
Ná afloop van die vyfde seisoen sal daar 201 spelers wees wat weet hoe dit voel om in daai warm stoel voor Rian van Heerden te sit.
Wie word ’n miljoenêr? word van 2 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Net mens
Die dokumentêre reeks Net mens keer terug vir ’n derde seisoen, en hierdie keer vertel dit die diep persoonlike en kragtige stories van drie buitengewone Suid-Afrikaanse vroue: Karlien van Jaarsveld, Amanda Strydom en Hanna Grobler.
Deur dié seisoen loop ’n goue draad – moederskap. Van die vreugde om ’n moeder te word, tot die ondenkbare pyn van ’n miskraam en die verlies van ’n kind, maak hierdie vroue hul harte oop oor ervarings wat dikwels in die skaduwees gehou word. Hul kwesbaarheid, krag en eerlikheid werp lig op onderwerpe waarmee baie mense worstel, maar min openlik oor praat.
Net mens 3 kyk nie net terug op elke vrou se merkwaardige loopbaanprestasies, toekennings en mylpale nie, maar wys ook die ware, weerlose mense agter die openbare persoonlikhede. Deur roerende onderhoude, beeldryke tonele en teer oomblikke gee die reeks kykers ’n ongefilterde blik op wat dit beteken om roem te hanteer terwyl jy met diep persoonlike uitdagings worstel.
Die gewilde akteur Reynardt Hugo is weer die uitvoerende vervaardiger en regisseur van die reeks: “Hierdie seisoen het my verander. Om teenoor Amanda, Karlien en Hanna te sit en hul rou eerlikheid, hul pyn en hul krag te aanskou, was een van die mees inspirerende ervarings van my loopbaan. As ’n pa, as ’n seun en as ’n filmmaker het ek daar weggestap met ’n hernude begrip van die mag van stories en die menslike gees. Hierdie vroue is nie net ikone nie – hulle is vegters. Net mens 3 is ons manier om hulde te bring aan hulle en hul veggees. Dis oor hoe ons opstaan, hoe ons onthou en hoe ons aangaan – nie ten spyte van ons pyn nie, maar juis daardeur.”
Die reeks beloof om een vir die boeke te wees – ’n diep roerende portret van drie vroue wie se krag gesmee is in die vuur van sowel oorwinning as tragedie. Kykers kan trane, moed, inspirasie en, bowenal, waarheid verwag.
Net mens begin op 6 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Govan ontbloot
Govan ontbloot is ’n splinternuwe dokumentêre reeks wat op 30 Julie om 21:00 begin. Hierdie unieke en stylvolle produksie is nie ’n aktualiteits- of geselsprogram nie, maar eerder ’n eerlike, menslike verkenning van buitengewone Suid-Afrikaanse verhale – aangebied deur Govan Whittles, een van Suid-Afrika se mees ervare joernaliste.
Govan is bekend vir sy werk aan groot nuusstories soos Marikana, die Oscar Pistorius-verhoor en sy politieke dekking van partye soos die EFF, ANC en DA. Die Mail & Guardian, eNCA en Newzroom Afrika is van die instellings waar hy al sy stempel afgedruk het. Hy het ook internasionaal verskyn op platforms soos CNN en BBC. Govan is tans ’n aanbieder van Carte Blanche.
“Ek hoop hierdie program gee mense ’n nuwe uitkyk – veral vir dié wat ander oordeel. Govan ontbloot wil kykers aanmoedig om mense wat anders as hulle is met ’n oop gemoed te probeer verstaan,” sê Govan.
Govan ontbloot begin 30 Julie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Kyk wie is almal terug in Julie
Hannes aan huis
Die immergewilde Hannes van Wyk maak ’n paar wye draai in die land in die nuwe seisoen van Hannes aan huis. Hy kuier, onder andere, by Voetspore se Johan Badenhorst, die grensverskuiwer en vegter vir veiligheid, Ian Cameron en die sangpaar, Francois en Elizabeth Fourie. Ander bekendes wat hulle voordeur vir Hannes oopmaak, is Binnelanders se Hykie Berg, die ontkleedanseres Gigi, die veteraan-akteur Pierre van Pletzen, die politieke ontleder wat mense warm onder die kraag kan maak, Piet Croucamp, Big Concerts se Attie van Wyk, die ondersoekende joernalis Devi Govender en renjaer, Giniel de Villiers.
Hannes aan huis begin op 9 Julie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Lottoland help ’n dorp
Ses spanne dwarsoor Suid-Afrika word verras met hulp van Lottoland. Elke span staan voor ’n uitdaging: om hul dorp binne ’n paar weke te verbeter. Op elke span se pad wag uitdagings en drama, harde werk en hartroerende stories. Leah besoek in die nuwe seisoen Coligny, Darling, Winnie Mandela-dorp, Van Wyksdorp, Smithfield en Rhodes. Daar word twee episodes aan elke dorp bestee, en die finale en dertiende episode van dié seisoen is ’n samevatting van hierdie merkwaardige reeks wat al soveel lewens verander het.
Lottoland help ’n dorp begin op 8 Julie om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Met ’n huppel in die stap
Oudword beteken nie die lewe moet aan jou verbygaan nie. Dit bied juis ’n uitdaging om aktief besig te bly soos die jare aanstap. Met ’n huppel in die stap is terug vir ’n sestiende seisoen, en van die onderwerpe wat aan die bod kom, is kubermisdaad en hoe om dit te bestry, aftree-oorde en wat dit alles bied, en interessante stokperdjies. Daar word ook gepraat met ’n groep oudregters wat vertel van die sake wat hulle verhoor het. Die aanbieders is Riaan Cruywagen, Bettie Kemp, Simon Bruinders en Jacqui January.
Met ’n huppel in die stap begin op 2 Julie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Jan Braai vir erfenis
Namibië en sy natuurskoon, sy mense en natuurlik sy kos is in hierdie seisoen van Jan Braai vir erfenis op die spyskaart. Die reeks skop af met Jan wat die soutpanne van Walvisbaai besoek, waar hy kyk na verskillende maniere om kos met sout voor te berei – van pekel tot natuurlik om te braai. Vis en skulpvis kom daarna aan die beurt. Daar is ook ’n kykie na die Duitse invloed op die koskultuur in Namibië – van wildsvleis en straatkos tot bier en brood. Bees en lam maak ook ’n draai op die rooster, en Jan wys in die dertiende episode wat jy alles moet weet as jy in Namibië wil gaan vakansie hou.
Jan Braai vir erfenis begin op 5 Julie om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Safari Roetes
Die Safari-span toer hierdie jaar met die stofpaaie in en om die pragtige Cederberge en in die Tankwa-Karoo langs. Dié area is alombekend vir die unieke rotsformasies en die groot oop vlaktes. Die Safari-span wys vir jou waar jy kan gaan ry, wat daar te sien is en waar jy kan gaan kamp opslaan of inval by akkommodasie as die winter se koue te veel byt.
Die span bestaan uit drie paartjies: Petri en Tanya de Wet, Vivian en Marianne Torlage en Nico en Danette Hesterman, sowel as ’n klompie gaste wat langs die pad kom kuier. Daar word kampeertoerusting getoets en talle safariwenke gedeel wat jou eie ekspedisies makliker sal maak.
Safari Roetes begin op 11 Julie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
4x4 met André
Die 4x4-kenner André de Villiers verken in die nuwe seisoen Namibië, en kykers kan gereed maak vir opwindende uitdagings, asemrowende natuurtonele en natuurlik hope avontuur. Die voertuigtoetsingenieur Jakes Jacobs en die Namibiese filmmaker Jens Schneider sluit by André aan vir hierdie reis wat in die lowergroen suide van die land afskop. Ander plekke waar daar in dié seisoen aangedoen word, sluit in die welbekende Spitzkoppe, Brandberg (Namibië se hoogste berg) en Klein Aub in die Khomas-streek, suid van Windhoek.
4x4 met André begin op 7 Julie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
kykNET Nostalgie
Dit wat stom is
Die dramareeks Dit wat stom is vul vanaf 20 Julie om 21:00 die Nostalgie-gleuf . Dié reeks, deur die legendariese Franz Marx, was ’n treffer toe dit in 2005 die eerste keer uitgesaai is en was die sanger Jan Blohm se debuut as akteur.
Die 20-jarige Elri Dekker (Irmarie Steyl-Basson) het die wêreld aan haar voete. Sy is blond, pragtig en die erfgenaam van ’n multimiljoenrandmaatskappy. Maar sy stel meer belang in mode en ouens as in ’n magtige sakeryk.
Haar ouer suster se opkomende troue met ’n ryk dokter is ’n doring in haar vlees wat net oor en verby moet kom sodat sy haar rustige, sorgelose lewe saam met haar pa en jonger broer in ’n ryk voorstad kan voortsit.
Jan Meyer (Jan Blohm) is ’n student wat bereid is om sy studies op te skop sodat hy die baba, wat hy by sy eksmeisie Melanie (Milan Murray) verwek het, kan grootmaak. Melanie weier egter dat Jan enigsins met die kind te doen het wat sy vir aanneming wil opgee. Trouens, sy sweer hy is nie die pa van die kind nie.
Wanneer ’n tragedie afspeel, besef Elri gou haar luukse lewe was ’n blote illusie. Dan kruis haar en Jan se paaie, en hul lot raak so verstrengel dat daar geen omdraaikans is nie.
Ook met Chris de Clerq, Elzabé Zietsman, Ivan Zimmermann en Annie Malan.
Dit wat stom is begin op 20 Julie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Sepies
Binnelanders
Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
Naomi moet ’n groot besluit oor haar loopbaan neem – veral wanneer sy en Louis dit oorweeg om swangerskap nog ’n kans te gee. Die besluit is egter nie so eenvoudig nie. Nicolette begin wonder oor die doel van verhoudings, veral wanneer sy uitvind die liefde van haar lewe is in ’n ander verhouding, en haar huidige verhouding ’n onverwagse wending neem. Amor is in ’n tweestryd gewikkel wanneer sy besef sy het gevoelens vir Rian. Ella maak uiteindelik vrede met die feit dat sy nie noodwendig die lewe van ’n sosiale vlinder wil lei nie.
Delia is terug en haar tuiskoms lok uiteenlopende reaksies uit. Wanneer Lukas kort ná haar terugkoms onverwags opdaag, begin die ratte in Tertius se kop draai. Hy ruik ’n rot, en hy is vasbeslote om agter die kap van die byl te kom. Riekie is ook terug, en sy doen alles in haar vermoë om haar vriendskap met Thalia te herstel. Sy kry ook ’n idee om Henry van sy eensaamheid te verlos. Louis en Naomi vind uit Petro is terug in Pretoria en werk by Eikehof, maar is bekommerd wanneer hulle uitvind sy is haweloos. At word Pretoria toe ontbied wanneer ’n skokkende e-pos dreig om ’n Binneland-raadslid se lewe te verwoes.
Suidooster
Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)
In Julie is daar ’n vlaag van geheime – geheime wat ontbloot word en emosionele manipulasie. Rhafiek distansieer hom doelbewus van Kaashifa, maar sy hart trek dalk in ’n ander rigting. Bridgette dwing Zoe om te kies: gee Nazeem se aandele terug of trek uit. Ná Wade se raad gee Zoe toe, maar sy vertrou nie Bridgette en Nazeem se nuwe verhouding nie. Rhafiek probeer Kaashifa terugwen, maar die verlede hang soos ’n swaard oor hulle. Hy probeer aanbeweeg en begin weer date, en Kaashifa besluit om Johannesburg toe te trek met Dullah. Frankie word uit haar blyplek geskop en trek saam met Justin in by Kate, en dit veroorsaak nuwe spanning. Reggie neem in die geheim swemlesse, maar Angie vermoed iets anders. Ná ‘n misverstand erken hy die waarheid, en hulle maak vrede. Hy begin ook soek na sy biologiese pa. Kate voel uitgebuit in die gemeente en “bedank” uit haar posisie by die kerk, maar kry troos van ’n geheimsinnige vreemdeling.
Diepe waters
Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
Theresa bevind haarself in die spervuur wanneer Anna haar onder druk plaas. Met Spanje wat wink, sien Lucas nuwe moontlikhede vir homself. Tog, as hy die besluit neem, gaan dit lewensveranderende gevolge inhou. Sal hy daarmee kan saamleef?
Wanneer die kêffie se toekoms in gevaar is, bring ’n stil vennoot hoop, maar ook vrae. Lettie is vasbeslote om haar droom te red, maar nie sonder ’n paar ongemaklike afsprake en struikelblokke nie. En asof sy nie genoeg hooi op haar vurk het nie, bly Henry hunker na ’n baba. Dis dus geen wonder dat hy spring wanneer daar ’n onverwagse geleentheid oor sy pad kom nie.
’n Bekende gesig keer terug na Boskruin wat ’n warboel van emosies ontketen. Wat beteken die persoon se terugkeer vir die liefde? ’n Moeilike keuse gaan beslis gemaak moet word.
kykNET&kie
Skemergrond
Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)
Die langverwagte tweede seisoen van Skemergrond begin op Maandag 30 Junie, en dit is propvol verrassende kinkels. Verskeie verwikkelinge gaan Gemoedsdrif tot op die rand van chaos dryf. Van verwoestende verraad tot skokkende geheime – die dorp se inwoners staan op die punt om hul donkerste beproewinge nog te trotseer. Met verskeie vars gesigte wat by die telenovela aansluit, was daar nog nooit ’n beter tyd om dit weer in die wêreld van Skemergrond te waag nie.
Denver Vraagom (Suidooster, Arendsvlei, Binnelanders, 7de Laan), Keeno Lee Hector (Barakat, Spinners, Arendsvlei, Sara se geheim), Adrian Steyn (Getroud met rugby, Binnelanders, 7de Laan, Wyfie) en Siobhan Hodgson (Recipes for Love and Murder, Suidooster, Wyfie) staan almal gereed om dinge in Gemoedsdrif te ontwrig, uit te daag en hul merk te laat. Met hierdie nuwe karakters én nuwe konflik wat op die horison broei, kan kykers maar solank hulle sitplekgordels vasmaak.
Sê jou sê
Die splinternuwe vyfde seisoen het op 15 Junie begin, en Aden Thomas en sy gaste op Sê jou sê vat weer ’n hele paar moeilike onderwerpe aan.
13 Julie
Ons gesels oor seksuele teistering. Wat is dit en wanneer word dit misbruik as verskoning?
20 Julie
Staatshospitale is berug vir stadige en soms skokkende diens. Ons hoor van ’n paar gevalle.
27 Julie
Ons kyk na taxi-geweld – tussen passasiers en bestuurders in besonder.
Sê jou sê word Sondagaande om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai en is ook op DStv Stream beskikbaar.
Bly dié Julie ingeskakel op die kykNET-kanale vir die beste Afrikaanse vermaak wat belowe om enige koue hok te slaan. Gesels ook saam op Facebook, X, Instagram en Tiktok.