Logo
Diepe waters S3 Slim BB
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Vars gesigte en vars intriges wag in Diepe Waters

Nuus
02 September 2025
Lees meer!
Diepe waters

Vanaf Dinsdag 2 September kry kykers van kykNET (DStv-kanaal 144) se gewilde telenovela Diepe Waters die geleentheid om drie talentvolle aktrises in aksie te sien wanneer hulle as nuwe karakters bekendgestel word. Hierdie toevoegings beloof om vars energie, hartroerende oomblikke en opwindende storielyne na Boskruin te bring.



Adriana Faling as Dominee Carike Mostert

Adriana Faling, wat haar TV-debuut gemaak het as Tessa in Egoli en daarna bekend geword het vir rolle soos Claudette in Hart van Staal, Irma in 7de Laan, Dr. Martie in Getroud met Rugby en Monica in Hotel, sluit nou by Diepe Waters aan as die opregte en deernisvolle Dominee Carike Mostert.

“Ek glo die lewe self het my voorberei vir ’n rol soos Carike,” sê Adriana. “Sy staan onbeskaamd vir dit waarin sy glo, en ek dink ek is uit dieselfde lap gesny. Die groot verskil is net dat ek vier kinders het – sy nie!” Carike speel aanvanklik ’n ondersteunende rol in die gemeenskap, maar haar vars, verhoudingsgefokusde benadering tot geloof beloof om die status quo in Boskruin uit te daag.



Maxime Scheepers as Natalie Marcus


Die veelbekroonde kunstenaar en kreatiewe talent Maxime Scheepers (sangeres, danseres, model en aktrise) vertolk Natalie Marcus, die bestuurder van die Linden Skinvestment-tak. Natalie is professioneel, vriendelik en straal ’n aansteeklike positiewe energie uit.

“Wat my aangetrek het tot Natalie, is hoe professioneel en positief sy is – sy voel soos ’n uitbreiding van myself,” vertel Maxime. “Sy is die tipe vrou wat ek elke dag hoop om te wees: optimisties, goedhartig en ywerig.” Kykers kan uitsien na drama in Natalie se wêreld, veral rondom haar nuwe baas en die sabotasie wat haar in die gesig staar.



Leshané Chatwind as Mandy van Niekerk


Die opkomende aktrise Leshané Chatwind, wat haar debuut in die internasionale reeks Ludik gemaak het, verskyn nou as Mandy van Niekerk – Natalie se regterhand en ’n jong, sprankelende terapeut by Skinvestment.

“Mandy is energiek, ambisieus en lewenslustig – en ek sien baie van myself in haar,” sê Leshané. “Al lyk sy selfversekerd en positief, glo ek kykers gaan later meer lae van haar ontdek.”



Met Adriana, Maxime en Leshané wat nou deel van die Diepe Waters-familie is, wag daar nuwe karakters wat kykers se harte gaan aanraak én hul nuuskierigheid prikkel.

Skakel Maandae tot Donderdae om 18:00 in op kykNET (DStv-kanaal 144) vir Diepe Waters. Ook beskikbaar op DStv Stream.