kyknet channel logo

Van Nashville tot Vegas: Bobby en Brendan se musiekreis deur Amerika – Ander dam se eende

Nuus24 November 2025
"Ander dam se eende" – vanaf Maandag 12 Januarie 2026 om 21:00 op kykNET.
Ander dam se eende S1 Article Image

Wat gebeur wanneer twee geliefde Suid-Afrikaanse sangers besluit om Amerika te verken sonder enige plan, program of padkaart? Ander dam se eende wys presies hoe dit lyk — onvoorspelbaar, eg, vol humor en propvol musiek.

Die 13-episode reeks volg Bobby van Jaarsveld en Brendan Peyper op ’n road trip deur Amerika in ’n RV: van die groot stadsgedruis van New York tot die country-ritmes van Nashville, die blues-siel van Memphis, en die ongerepte stilte van die Grand Canyon. Elke bestemming bring nuwe mense, nuwe klanke en nuwe ontdekkings wat die twee kunstenaars diep raak.

’n Reis wat hul grense toets

Al lyk dit na ’n eenvoudige road trip, wys die reeks dat dit baie meer as dit is. Bobby en Brendan kom voor uitdagings wat hulle buite hul gemaksones dwing: onbekende paaie, kultuurbotsings, skerp draaie in klein dorpies, en adrenalienoomblikke soos Bobby se 260m SkyJump in Las Vegas.

Tussen die chaos en die kalmte word daar gesels, gesing, baklei, gedink, gelag… en soms net stilweg in die natuur gesit.

Musiek is die ritme van die reis

Uiteindelik is musiek die hartklop van die reeks. Kykers sien hoe die twee sangers in kroeë, by buiteverhoë en selfs op straathoeke optree. Hulle ontmoet plaaslike musikante, hoor stories vol nostalgie en ontdek hoe die Amerikaanse musiekgeskiedenis hul eie kreatiwiteit voed.

Dit word ’n reis wat nie net hul musiek nie, maar ook hul menswees verdiep.

Pretfeite van die avontuur

• Meer as 5 500 km is deur die VSA aflê.
• Hulle het op meer as agt verskillende verhoogplekke gesing.
• Bobby het die 260 m SkyJump vanaf The STRAT se 108ste vloer aangedurf.
• Brendan se kepversameling het tot meer as 30 gegroei.
• Bobby se gunstelingkos: Chick-fil-A se slaai.
• Brendan se topkeuse: Taco Bell.

Vir kykers wat hou van egte stories

Ander dam se eende is nie ’n reeks oor perfeksie nie — dis ’n reeks oor eerlikheid. Oor vriendskap, groei, musiek, en die wonderlike ding wat gebeur wanneer jy alles wat jy ken agterlaat om die onbekende te verken. Bobby en Brendan wys opnuut dat reis nie net gaan oor die plekke waarheen jy gaan nie, maar oor die dele van jouself wat jy langs die pad ontdek.

Ander dam se eende is trots deur Capitec geborg.

Ander dam se eende begin Maandag 12 Januarie om 21:00 op kykNET en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees