Diere is nie net troeteldiere nie – hulle is deel van ons gesinne, ons harte en ons daaglikse vreugde. Die splinternuwe kykNET-reeks Pootpraktyk, wat Saterdag 11 Oktober om 18:30 op DStv-kanaal 144 begin, gee ’n unieke kykie agter die skerms van die bekende Valley Farm-dierehospitaal.
Die reeks word aangebied deur die hoog aangeskrewe veeartse dr. Tim Krafft en dr. Dean de Kock, wat hul passie, kennis en medemenslikheid gebruik om diere van alle soorte die beste moontlike sorg te gee. Pootpraktyk wys nie net die uitdagings van veeartsenykunde nie, maar ook die ongelooflike bande tussen mense en hul diere.
Inspirasie agter die reeks
Die vervaardiger, Gideon Eksteen, vertel wat die vonk vir Pootpraktyk was:
“’n Vriend van my, Riaan Crafford, het by Valley Farm-hospitaal in Pretoria gewerk en vertel van die ongelooflike diens en fasiliteite wat die hospitaal aan diere en hulle eienaars bied. As ’n diereliefhebber het dit my laat besef ’n reeks oor wat alles by ’n dierehospitaal gebeur, nie net deur jonk en oud geniet sal word nie, maar ook mense sal inspireer om hul diere soos ’n lid van die familie te versorg.”
Passie en toewyding
Hy voeg by dat die opregte passie van die span agter die skerms die reeks besonders maak:
“Eerstens, en die belangrikste, is die opregte passie van die assistente, verpleegpersoneel, dokters en spesialiste, asook die fasiliteite wat hierdie hospitaal bied. Dis ongelooflik om te sien hoe die span die reis met elke dier vasvang en die stories van hoop en genesing deel.”
Eksteen beklemtoon ook die groter boodskap van die reeks:
“Ek glo kykers sal met nuwe waardering na die werk en omgee van ons veeartse kyk en ook bewus word van die sorg wat ons dierekinders nodig het. Dis ’n feel-good-reeks met wonderlike stories, maar ons wys ook dat nie alles altyd ’n gelukkige einde het nie – dit maak die ervarings eerlik en betekenisvol.”
Diverse dierepasiënte en stories
In Pootpraktyk ontmoet kykers ’n wye verskeidenheid van dierepasiënte: van alledaagse troeteldiere, soos honde en katte, tot eksotiese troeteldiere, soos voëls, slange en selfs ape. Elke episode volg die behandeling van ’n dier van begin tot einde – met al die spanning, emosie en verligting, maar ook soms hartseer, wat deel van die genesingsproses is.
Kykers kan uitsien na 13 episodes vol hartroerende oomblikke, indrukwekkende mediese prosedures en die onwrikbare toewyding van die Valley Farm-span. Van eenvoudige inentings en opvolgondersoeke tot operasies in die teater – geen dag is ooit dieselfde by die Valley Farm-hospitaal nie.
Pootpraktyk is ’n reeks vir die hele gesin: opvoedkundig, emosioneel meesleurend en bowenal ’n viering van die liefde wat ons vir ons diere deel.
· Pootpraktyk begin Saterdag 11 Oktober om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees