Logo

'Niggies': Dramareeks gegrond op ’n grusame ware misdaad – ’n eerste vir kykNET

Nuus
27 Januarie 2025
In 1965 is die jong Issie Fourie en Petro Nel in die rustige dorpie Odendaalsrus in die Vrystaat ontvoer en vermoor. Issie se broer, André, het gesweer om alles in die stryd te werp om die skuldige aan die pen te laat ry. Dit sou hom 18 jaar neem.
Niggies

Niggies, ’n dramareeks gebaseer op hierdie misdaad wat die land geruk het, is geskep deur ’n gedugte span – voor en agter die kameras – en sal in Maart vanjaar op kykNET debuteer. Die regisseur is die veelbekroonde Jaco Bouwer, wat nie net bekend is vir sy grensverskuiwende teaterwerk nie, maar ook vir die internasionale trefferreeks Spinners, wat in en om Kaapstad verfilm is.

Beer Adriaanse, bekend vir flieks soos Wonderlus en Kanarie, asook reekse soos Hotel en Fynskrif, vertolk die rol van die ouer André. Die talentvolle nuweling Janru Steenkamp speel die jong André. Ook te sien is Carel Nel (Donkerbos, Hartstog), wat verskyn het in die HBO Max-reeks Raised by Wolves en die internasionaal bekroonde ekoriller Gaia, waarvan Jaco Bouwer ook die regisseur was.  

Niggies begin met die dubbele ontvoering en moorde van Issie Fourie en Petro Nel in Odendaalsrus in 1965, maar die reeks strek oor die 1960’s en 1980’s. Die gebeure speel af in Odendaalsrus, Allanridge en Kroonstad in die noordoostelike Vrystaat, ’n konserwatiewe deel van ’n konserwatiewe land waar die moorde soveel te meer skokkend was. 

Nadat hy gehelp het om Spinners ’n wêreldwye sukses te maak, pak Jaco Bouwer hierdie aangrypende historiese drama met universele temas aan. Niggies is vervaardig deur Wolflight Films, met Roelof Storm (Kanarie, Poppie Nongena) as uitvoerende vervaardiger. Die bekroonde Saartjie Botha en Philip Rademeyer het die draaiboek geskryf.  

“Hoewel die ontvoering en moorde destyds opslae gemaak het, het die besonderhede van die storie vergete geraak, behalwe natuurlik vir diegene wat direk deur die trauma geraak is,” verduidelik Bouwer. “Ons wou nie ou wonde oopkrap nie – maar eerder ondersoek wat werklik gebeur het, met ’n bietjie kreatiewe vryheid, en dit in die konteks van die moderne Suid-Afrika plaas, waar sulke misdade meer algemeen is as 60 jaar gelede.”  

“Niggies is ’n rou ondersoek na verlies en hoe onverwerkte trauma gesinne kan vernietig,” sê M-Net se direkteur van Premium-kanale, Waldimar Pelser. “Dit is nie ’n sensasionele verhaal oor geweld nie; eerder ’n sensitiewe verkenning van hoe pyn hanteer en genesing gevind kan word in ’n plek waar hoop nie veronderstel is om te bestaan nie.”

Die reeks volg op die onlangse suksesse van kykNET-dramas soos Plan B, Een keer om die son en Nêrens, Noord-Kaap Deel II, wat almal wêreldklasvermaak in Afrikaans verskaf het.  

  • Die première-datums en ’n meer volledige rolverdeling sal later bekend gemaak word. Besoek kykNET se webwerf en sluit aan by die gesprek op kykNET se X-, Instagram-, TikTok- en Facebook-bladsye.