Leon Schuster is al dekades volksbesit, en nou word sy lewensverhaal – die eerste keer, in ’n dokumentêre reeks van vyf episodes vertel. Schuster begin op Woensdag 1 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
“Leon Schuster is ’n nasionale skat en seker naas Madiba, oor generasies heen, die bekendste mens in Suid-Afrika,” sê Rian van Heerden. Sy produksiemaatskappy, Provoco, is die vervaardigers van die reeks. “Dit was vir my egter vreemd dat sy storie nog nooit in diepte vertel is nie. Ek wou graag die uitdaging aanpak om sodoende hopelik sy nalatenskap te verewig.”
Vir sy lewensbydrae tot die vermaaklikheidsbedryf is Leon ook vanjaar by die Silwerskermtoekennings vereer. Hierdie dokumentêre reeks is net nog ’n veertjie in die hoed van ’n absolute ikoon. In die vyf episodes sal daar gekyk word na Leon se jeugjare in Bloemfontein, sy jare as radio-omroeper en die latere sukses wat hy met rolprente soos You Must Be Joking en Mama Jack behaal het.
“Daar is verskeie hoogtepunte, maar my heel eerste candid movies (You Must Be Joking en Oh Shucks... It’s Schuster) staan uit, want dis waar my rolprentloopbaan begin het,” het Leon gesê oor sy verering. “Oh Schucks... It’s Schuster het my op die map gesit. So, ek sal altyd dankbaar wees dat mense so mal was daaroor. Maar Mama Jack was die grootste leerskool. Om daai karakter te ontwikkel was ’n ongelooflike uitdaging, maar ek het dit so geniet. Nie almal was mal daaroor nie, maar my hart was in die karakter en ek het ongelooflik baie uit haar geleer.”
“Ek hoop kykers kry die waarheid. Die rou waarheid. Nie die Schucks-waarheid, Mr Bones-waarheid of Mama Jack-waarheid nie - die Leon-waarheid. Komediante is mense wat gewoonlik vereenselwig word met grapjasse en grapgatte, maar inherent is hulle eintlik baie diep mense. En ek dink bietjie van daai diepte skemer deur.”
Leon sê die grootste uitdaging met die maak van die reeks was Rian se indringende vrae.
“Rian is baie, baie slim en vra gewoonlik vir jou die vraag wat jy die minste verwag het. Dan moet jy op jou voete dink anders gaan jy sink. Dink of sink. Ek belowe dit was moeiliker as Wie word ’n miljoenêr?. Rian het ’n sekere aanslag en is nie jou gewone onderhoudvoerder nie. Dis dieper, dis anders.”
In dié dokkie word daar ook onderhoude gevoer met mense wat saam met Leon gewerk het en met van diegene deur hom uitgevang is. Eddie Eksteen, Carike Keuzenkamp, Jack Parow, Helen Zille, Alfred Ntombela (ook bekend as Shorty), Rob van Vuuren en Desmond Dube is van die bekendes wat hulle stories deel.
Dit is egter nie net pret en plesier nie. Leon het die afgelope paar jaar probleme met sy gesondheid, en dit is veral sy rug wat hom kortwiek. Hy het amper konstante pyn en praat openlik oor die foute wat hy in sy professionele en persoonlike lewe gemaak het.
Schuster beloof om ’n kant van Leon te wys wat Suid-Afrikaners nie ken nie. Daar sal beslis genoeg humor en vermaaklike staaltjies wees, maar ook emosie en die trane van ’n geliefde hanswors.
Hoe wil Leon hê mense moet hom onthou?
“As iemand wat vreugde gebring het vir Suid-Afrikaners – iemand wat mense bymekaargebring het. Daar is niks beter as om iemand te laat lag nie,” sê hy.
- Schuster begin op 1 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), en die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.