web uni tv guide
web uni tv guide

Op My Eish!

144RealiteitPG13

’n Onverwagte wending skud Op my eish! behoorlik: Chantelle Smith maak haar verskyning as eerste wild card

Nuus23 Januarie 2026
In hierdie week se episode van Op my eish! leer kykers ’n nuwe gesig ken wanneer Chantelle Smith onverwags as die seisoen se eerste “wild card” haar opwagting maak.
Op my eish

Die wild card is iemand wat heeltemal buite die bestaande groep deelnemers staan – ’n dame wat skielik opdaag en die vrygesel glad nie ken nie, en van wie hy nog nooit ’n foto of video gesien het nie. Hierdie keer bring die verrassing egter ’n ekstra laag spanning mee.

Wat Chantelle se verskyning besonders maak, is die feit dat sy vir Brendan Peyper se seisoen ingeskryf het, maar toe nie die top-12 gehaal het nie. Ná twee jaar van selfrefleksie en fokus op haar eie lewe, bevind sy haar nou op ’n plek waar sy gereed is om weer haar hart oop te maak – sonder verwagtinge, maar met opregtheid.

“Ek is gelukkig op my eie en voel nie onvolledig sonder iemand nie,” sê Chantelle. “Tog het Ruan se storie – en die feit dat ons albei van Alberton is – by my bly spook. Toe die geleentheid weer oor my pad kom, het ek geweet dit is die regte tyd,” vertel sy.

Skemerkelkies met ’n skokonthulling

Die episode het by die Kilima-wildreservaat afgespeel, waar die top-11-dames arriveer het om reg te maak vir die geselligheid met skemerkelkies waar hulle die geleentheid sou kry om Ruan beter te leer ken. Daar is slegs 11 deelnemers oor nadat Melissa Jonker weens persoonlike redes moes onttrek.

Tydens die skemerkelkies het JP, die wingman, die dames oor Melissa se vertrek ingelig – en net toe almal dag die aand is lekker op koers, het hy die groot aankondiging gemaak: Chantelle Smith is die wild card.

Die onthulling het Ruan sigbaar geskok. “Dit raak net al moeiliker,” het hy erken, veral met die beperkte tyd wat hy met elke vrou het. Tog het die aand in ’n ligte en gesellige atmosfeer verloop, met Ruan wat met die dames gemeng en waardevolle eerste indrukke gevorm het.

Vir Chantelle het die eerste aand amper onwerklik gevoel. “Met al die emosies en adrenalien was dit soos ’n droom,” vertel sy. “Ek was aangenaam verras deur hoe vriendelik en verwelkomend die dames was. Dit het my dadelik op my gemak laat voel. Al was daar later gerugte van ongemak omdat iemand so vroeg ingekom het, het niemand dit ooit direk of onbeleefd teenoor my hanteer nie, en daarvoor is ek dankbaar.”

Boeries en ’n groepafspraak

Die volgende dag was daar ’n speelse uitdaging – ’n boereworsrolkompetisie. Die vroue wat die ses beste boeries voorberei het, kon op ’n groepafspraak met Ruan gaan.

Die wenners was Chantelle Wilson, Cindy, Carmen, Caitlin, Charlene en Minette. Tydens die groepafspraak het Ruan vir Carmen, Chantelle en Caitlin vir ekstra alleentyd gekies.

Chantelle Smith was bewus daarvan dat haar verskyning moontlik spanning sou kon veroorsaak, maar sy  het die ervaring met respek en selfvertroue aangepak. “Ek weet wie ek is en waarvoor ek staan,” het sy gesê. “Dit was vir my belangrik om getrou aan myself te bly en met ’n oop hart in te gaan.”

Met Chantelle se aankoms is dit duidelik: Op my eish! het nou ’n nuwe dinamiek gekry, en Ruan se reis na liefde het net nog meer kompleks geraak. Sal hierdie onverwagse wending ’n ware verbintenis bring, of die bestaande bande tot die uiterste toets?

Op my eish! is elke Donderdag om 20:00, net op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.