Die jongste plaaslike rolprentvrystelling, My F*k Marelize!, het oor die naweek die ligte uitgeskiet by die loket en daarmee die boonste sport op die Suid-Afrikaanse toptien bereik. En dít ten spyte van strawwe internasionale kompetisie in The Roses, Caught Stealing en Afterburn wat tans ook op die kringloop is.
Dit is die eerste Afrikaanse rolprent wat weer op nommer een open sedert Ivan Botha en DonnaLee Roberts se reusetreffer Pad na jou hart (2014). My f*k, Marelize! het ’n 17% hoër plaaslike teaterskermgemiddeld behaal as Vir die voëls, die bes presterende Afrikaanse titel in teaters voor Covid, sedert November 2016.
Dié rolprent het oor die naweek 24% van die inkomste wat die toptienflieks by die loket het verdien het, ingebring. In Namibië was die fliek vir 6,3% van die naweek se algehele loket-opbrengs verantwoordelik – ’n nuwe rekord in Namibië vir die persentasie wat ’n Afrikaanse rolprent in die openingsnaweek verdien het.
In vergelyking met ander Afrikaanse trefferflieks het Marelize, in terme van die openingsnaweekverdienste oor drie dae, 89% beter as Kwiksilwers by die loket gevaar, 147% beter as Hans steek die Rubicon oor, 68% beter as Dominee Tienie en 127% beter as Susters.
My f*k, Marelize! is gegrond op ’n ware verhaal van ’n virale video wat ’n nasie geïnspireer en ’n uitdrukking in die volksmond geword het. Dis ’n grootwordrolprent wat gaan oor Heidi, ’n vrou met verbete wilskrag wat haar kanker vir haar familie wegsteek, en Marelize, haar ongeluksvoëldogter wat moet leer fietsry om as au pair in Nederland te gaan werk.
“Die film het nou al meer as R1 miljoen by die loket verdien – geen geringe prestasie nie en veral noemenswaardig in die huidige klimaat,” sê Nicola Auret, MultiChoice se uitvoerende hoof van programsamestelling. “Ons is verheug oor die loketsukses van My f*k, Marelize! in die openingsnaweek. Ons is baie trots op hierdie film en dankbaar vir die samewerking van die Namibiese filmbedryf en mense om dit moontlik te maak. ’n Plaaslike speelfilm wat nommer een by die loket is, is uitstekende nuus vir die plaaslike filmbedryf, en dit toon weer eens dat MultiChoice se belegging in Afrika-stories, en in hierdie geval ook Afrikaans, die soetste vrugte afwerp.”
Helen Kuun, MD van Indigenous Film Distribution & Development, is ook beïndruk met hoe buitengewoon goed die fliek presteer het: “My f*k, Marelize! bewys dat outentieke, onvergeetlike en roerende stories selfs in strawwe ekonomiese toestande gehore na die bioskoop kan lok. Fliekgangers het gestem deur kaartjies te koop, en die resultaat spreek vanself.”
Oor die verwerking van die storie van ’n virale meme tot rolprent sê die Nasionale Film- en Videostigting (NFVF) van Suid-Afrika se hoof van bedryfsontwikkeling, Yolanda Ncokotwana: “Die NFVF is verheug dat Nagvlug Films, wat die Fiction Slate-subsidie ontvang het, hierdie komiese oomblik omskep het in ’n hartroerende verhaal oor familie, humor en veerkragtigheid. My f*k, Marelize! wys jou selfs die vreemdste oomblikke kan vir grootdoekbetowering sorg. Ons is ongelooflik trots daarop dat ons hierdie samewerking tussen Suid-Afrika en Namibië ondersteun het.”
Oor die sukses van die film se openingsnaweek sê die regisseur-vervaardiger, Zandré Coetzer: “Ek is oorstelp van vreugde oor hoe goed die film gevaar het. Dit wys weer dat opregte stories saak maak en dat gehore positief reageer op alledaagse mense wat buitengewone dinge doen.”
Die rolprent is in Namibië verfilm en is deur Namibiese fliekgangers met ope arms ontvang. Dit was in Windhoek die topkaartjieverkoper by beide Ster-Kinekor se The Grove- en Maerua Mall-teaters. “Dit is wonderlik om te sien hoe die film plaaslike gehore betower,” sê Joel en Sophie Haikali, vervaardigers by Joe Vision Production, Namibië. “In ’n tyd waarin die wêreld stories van liefde, hoop en veerkragtigheid nodig het, resoneer hierdie film sterk.”
My f*k, Marelize! is geskryf deur Brett Michael Innes (Sink, Fiela se kind). Zandré Coetzer (Mooiweer en warm, Dinge van ’n kind) het die regie behartig. Marelize is haar debuut as speelfilmregisseur.
Hierdie Suid-Afrikaans-Namibiese ko-produksie is vervaardig deur Zandré Coetzer (Nagvlug Films), Brett Michael Innes en Paulo Areal (Nostalgia Productions), en Joe en Sophie Haikali (Joel Vision Production) in samewerking met Nagvlug Films met die ondersteuning van kykNET Films, MultiChoice Namibië, die NFVF, Nostalgia Productions en Joel Vision Production.
Die hoofrolle in My f*k, Marelize! word vertolk deur Namibies-gebore Je-ani Swiegelaar (Binnelanders, Pad na jou hart, Vuil wasgoed), Zandélle Meyer (Suidooster, Wyfie), Neels Clasen (Hunting Jessica Brok, Raaiselkind) en Nichola Viviers (Nuwejaar, Meisiekind).
- Die film word plaaslik versprei deur Indigenous Film Distribution and Development.