Ná ’n breek van ’n paar jaar, keer dié gewilde reeks terug met nog 13 boeiende stories van boere wat die gesig van landbou in Suid-Afrika verander en verder vorm.
Wat is ’n megaboer?
Dit gaan nie noodwendig oor hoeveel hektaar grond of geld boere het nie, maar oor ’n ingesteldheid en ’n unieke manier van dink en doen. Megaboere is visionêre individue – entrepreneurs, risikobestuurders en planmakers – wat met durf, vindingrykheid en ’n sterk ondersteuningsnetwerk die uitdagings van boerdery aanpak. Hulle het die vermoë om terugslae in geleenthede te omskep en die speelveld met kreatiwiteit en vernuf te verander.
’n Dekade van inspirasie
Dis vanjaar tien jaar sedert die eerste reeks uitgesaai is. Sedertdien het kykers met byna 80 megaboere kennis gemaak. In hierdie seisoen leer kykers 13 nuwe gesigte ken – elkeen met ’n verhaal wat inspireer en hoop bring.
Wat maak die nuwe seisoen anders?
Die vorige seisoen is in 2020, gedurende die uitdagings van Covid-19, uitgesaai. Vandag is baie van die boere sterker as ooit, met nuwe planne, strategieë en suksesverhale om te deel. In ’n wêreld wat onder soveel negatiwiteit gebuk gaan, bring MegaBoere hoopvolle en positiewe stories na die skerm – verhale wat wys hoe vernuf, aanpasbaarheid en geloof in die toekoms, ’n bedryf vorentoe kan dra.
Temas en tendense
Kykers kan uitsien na ’n groot verskeidenheid van bedrywighede – van ’n blomplaas en ’n perdestoet tot groot sitrus-, bees- en piesangboerderye. Selfs plase buite Suid-Afrika se grense word van nader bekyk. Die jonger generasies se rol is duidelik, met nuwe idees en tegnologie wat ouer geslagte met trots en aanmoediging ondersteun. Familieplase bly die hoeksteen van ons landbou, en die vars energie van die nuwe geslag voer ondernemings na nuwe hoogtes en groter volhoubaarheid.
Diversiteit en unieke stories
Elke episode bied ’n nuwe avontuur – van sitrusplase in Kirkwood tot beesboerdery in Namibië en selfs ’n varkplaas in KwaZulu-Natal. Dit is ook opvallend hoe meer vroue vandag op plase ’n leidende rol speel. Die diversiteit van mense, kulture en bedrywe waarop die kollig val gee kleur aan die nuwe seisoen, maar die kernfokus bly dieselfde: die entrepreneur- en leierskap van die megaboere.
’n Sterk fokus op stories
Met ’n nuwe aanbieder, Marco Botha, en die ervare inhoudsregisseur, Pieter Steyn, aan die stuur van sake, beloof die komende seisoen om diep, eerlike en outentieke stories na kykers te bring. Die produksiespan het meer as 54 000 km afgelê om asemrowende beeldmateriaal vas te vang – van sonsopkomste oor vrugteboorde tot volmane oor uitgestrekte plaaslandskappe.
Waarom kyk?
MegaBoere is meer as net ’n kykie na landbou – dit is ’n viering van mense wat uitdagings met moed en kreatiwiteit die hoof bied. Dit herinner ons daaraan dat boerdery ’n ingesteldheid is: om in moeilike tye planne te maak, en in goeie tye die toekoms te bou.
MegaBoere begin Maandag 13 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.