Logo
Fiesta Slim BB
web uni tv guide

Fiësta

144VermaakPG

Lee-Ann Gerber: Van tent in die veld tot nuwe veldaanbieder van Fiësta

Nuus
30 Junie 2025
Lee-Ann Gerber het diep in kykers se harte gekruip tydens haar deelname aan die kykNET-realiteitsreeks Klein paradys, en nou kan hulle gereed maak om meer van haar op die kanaal te sien. Sy maak haar debuut as mede-aanbieder van die kykNET-program Fiësta op Sondag 6 Julie.
Lee-Ann Gerber

Lee-Ann en haar swaer, Johann, het kykers vroeër vanjaar op die punte van hul stoele in die laaste episode van die eerste seisoen van Klein paradys gehad. Daar was groot feesvieringe toe hulle as wenners aangekondig is en ’n koel R1 miljoen in hul sakke gesteek het.

Nou pak Lee-Ann haar volgende avontuur aan – hierdie keer as ’n Fiësta-aanbieder. Haar gewildheid in Klein paradys het daartoe gelei dat die Fiësta-span haar genader het toe hulle ’n nuwe aanbieder gesoek het.

Ek moes myself ’n paar keer knyp om te besef dat dit nie ’n prank call is nie,” vertel Lee-Ann. “Ek het besluit om ’n kans te waag en het my oudisie-skakel ingestuur. Ek was aangenaam verras toe ek as die nuwe aanbieder gekies is!”

Lee-Ann het vanaf haar eerste oudisie die produksiespan van Fiësta beïndruk. “Fiësta is outentiek. Met die oudisies het Lee-Ann se outentiekheid so mooi deurgekom, en ons het gevoel dis wat ons op die program soek,” sê Marius van der Wall, vervaardiger van Fiësta.

Hy meen die feit dat sy met Klein paradys vir ’n maand in ’n tent kon bly, het beslis in haar guns getel. “Fiësta mag glansryk lyk, maar ons skiet soms onder moeilike omstandighede. Die span moet ver reis, in vreemde beddens slaap, spandeer ure op die pad en ontmoet derduisende mense. So, jy moet taai genoeg daarvoor wees, en ons het gevoel sy het daardie toets reeds geslaag. Met die eerste opname het sy net ingeval – dit het gevoel asof sy al lankal deel van die span is.”

“Die vertroue wat Fiësta en kykNET in my as amateuraanbieder plaas, is groot. Ek voel werklik bevoorreg en dankbaar,” sê sy.

Sy is baie opgewonde oor dié nuwe uitdaging. “Ek sien veral uit na al die verskillende mense wat ek gaan ontmoet, om die dorpies waarvoor mense so lief is te besoek en om al die verskillende feeste in Suid-Afrika by te woon.”

Hier’s ’n paar interessante feite oor Lee-Ann:

  • Nadat sy haar dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, het sy Engels gegee in die Verre Ooste en was sy ’n lugwaardin in die Midde-Ooste.
  • Sy het onlangs ’n binne-ontwerpbesigheid begin en wil graag mense deur hul aftrede help om hul spasie só in te rig dat hulle in die goue fase van hul lewe kan floreer.
  • Wanneer sy nie saam met die Fiësta-span reis nie, is sy besig om haar passies op haar plot buite Pretoria uit te lewe, wat houtwerk, diere en plante insluit.
  • Kleiwerk is ook iets wat sy wil probeer, maar sy voel nog te geïntimideerd daardeur.
  • Sy is ’n opgeleide vroedvrou.
  • Sy het ’n fassinasie met haaie, maar het ook ’n “irrasionele vrees” vir die gediertes.
  • Sy kan haar eie elmboog lek.

Skakel Maandag 6 Julie om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) in vir Lee-Ann se debuut as Fiësta-aanbieder.