In Laurika se Tuiskoms, ’n eksklusiewe dokumentêre program wat deur Brainwave Productions vir kykNET vervaardig is, word daar nie net na haar luisterryke loopbaan gekyk nie, daar is ook ’n intieme blik agter die skerms na opnames van haar laaste album voor sy uit die musiekbedryf tree, Huis, wat vyf splinternuwe liedjies insluit. Die program wys ook filmopnames wat nog nooit voorheen gesien is nie.
Laurika praat oor die stories agter die liedjies op Huis, en verskeie van haar kollegas in die musiekbedryf gesels oor haar loopbaan. Onder die bekendes wat herinneringe en insigte deel, is Carike Keuzenkamp, Sonja Herholdt, Anton Goosen, Karlien van Jaarsveld, Appel, Tarryn Lamb, Emo Adams, Francois van Coke, Zolani Mahola, Vusi Mahlasela en Loki Rothman.
Laurika, wat aan die Hoërskool Jan van Riebeeck gematrikuleer en daarna drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, se groot deurbraak het in 1979 gekom met die liedjie “Kinders van die wind”. Daarna het treffers gevolg soos “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, “Op Blouberg se strand”, “Die gang”, “Hot Gates”, “Toemaar die donker man”, “Vier seisoene kind”, “ ’n Sonneblom uit Bethlehem” en “Die mense op die bus”, om net ’n paar te noem.
Sy het al verskeie toekennings en eerbewyse deur die jare ontvang, onder meer die Orde van Ikhamanga (brons) vir haar bydrae tot die kultuurskat van Suid-Afrika.
- Laurika se Tuiskoms is op 25 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. Die program is 90 minute lank.