Die erkenning vier die uitbeelding van Lucas, ’n anders-bekwame swemmer, wie se reis van ambisie, veerkragtigheid en insluiting diep by kykers regoor Suid-Afrika aanklank gevind het. Die rol word vertolk deur Caleb Swanepoel, wat die toekenning vir sy vertolking gewen het.
Diepe Waters, vervaardig deur Penguin Films en versprei deur MultiChoice Studios, volg die Swarts-familie, eienaars van die Swartmarlyne swemklub, terwyl hulle Olimpiese voornemendes oplei en terselfdertyd gesinsgeheime, mededinging en persoonlike uitdagins hanteer. Die aankoms van Lucas, in Oktober 2024 het transformasie binne én buite die swembad uitgedaag en geïnspireer.
“Ons is verheug dat Penguin Films hierdie erkenning ontvang het vir die beste verteenwoordiging van mense wat met gestremdhede leef in ’n geskrewe reeks deur die produksie van die telenovela Diepe Waters,” sê Penguin Films-vervaardiger Roberta du Randt. “Caleb se vertolking van die karakter Lucas is merkwaardig. Caleb is nie net ’n swemmer wat op nasionale vlak meegeding het nie, hy is ook ’n talentvolle akteur, daarom was hy die ideale keuse om die rol van Lucas te vertolk. Ons is ongelooflik trots op Caleb se bydrae tot die reeks. Sy deursettingsvermoë en positiewe ingesteldheid is ’n voorbeeld vir almal!”
Caleb Swanepoel voeg by: “Ek is baie geëerd om erkenning vir my werk te ontvang en om die karakter van Lucas in Diepe Waters te kon vertolk. Dit is regtig besonders om gestremdhede op hierdie manier uit te beeld, vanuit my persoonlike perspektief, maar ook deur Lucas se oë. ’n Groot dankie aan Penguin Films, kykNET, MIP Africa en Fame Week dat julle my ingesluit het. Ek is baie dankbaar en ek hoop dit is ’n bemoedigende boodskap aan filmmakers, vervaardigers en storievertellers om steeds divers en dapper te wees, en om toegewyd te bly om werk te doen wat impak maak en mense se persepsies verander.”
Deur gestremdheid en insluiting op ’n outentieke wyse in hoofstroom-verhale te verteenwoordig, baan Diepe Waters steeds nuwe weë in Suid-Afrikaanse televisie—en bied dit ’n narratief wat beide bemagtigend en inspirerend is.
Diepe Waters word Maandae tot Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dis ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.