Logo

Keeno-Lee Hector sluit aan by Skemergrond – en bring hope drama saam

Nuus
05 September 2025
Die wêreld van Skemergrond raak nog meer kompleks met die bekendstelling van ’n nuwe karakter: Ice, vertolk deur die veelsydige akteur en omroeper Keeno-Lee Hector, bekend vir sy rolle in Arendsvlei, Sara se geheim, Taktiek, Spinners en die rolprent Barakat.
Skemergrond

Ice is iemand uit Erica (Shimmy Isaacs) se verlede, ’n figuur wat ’n groot rol in haar jong lewe gespeel het en nou onverwags terugkeer. Hy is rof en onbeskof, maar tog ook ’n man met ’n sagte binnekant – veral as dit by Erica kom. “Hy’s soos ’n harde lekker met ’n sagte binnedeel,” verduidelik Keeno.

Om op die rol voor te berei, het Keeno die draaiboek fyn bestudeer en die karakter op iemand uit sy eie lewe gegrond. “Sodra ek aan daardie persoon dink, weet ek hoe Ice beweeg, praat en reageer. Dit maak dit vir my maklik om hom geloofwaardig tot lewe te bring,” sê hy.

Vir Keeno was dit ’n fees om die kontrasterende kante van Ice te vertolk – die geharde man wat soms onnadenkend optree, maar tog ’n sjarmante sensitiwiteit toon. “Hy’s nie ’n slegte man nie. Hy maak net keuses sonder om aan die gevolge te dink.

Ek verstaan hoekom hy verkeerd optree, en dit help my om hom te vergewe vir sy foute.”

Op stel was daar dae wat dit gevoel het soos die “Ice en Erica show”, maar Keeno sê die hele span het hulle ondersteun – soveel so dat selfs die uitdagende tonele ’n plesier was. 

Sy lang verhouding met Penguin Films het ook ’n groot, positiewe rol gespeel. Keeno se verbintenis met Penguin Films strek al oor twee dekades, met verskeie samewerkings oor die jare wat hom deel van die familie laat voel. “Ek en Roxanne Blaise, een van die regisseurs van Skemergrond, het al man en vrou gespeel in Penguin Films se Khululekha: Siyavota. So, ons kom gemaklik oor die weg. En om weer saam met Shimmy te werk was ’n hoogtepunt. Sy’s ongelooflik vrygewig, en ons vriendskap maak dit maklik om die emosies van ’n toneel saam te ontdek.”

Vir Keeno was dit ’n maklike besluit om by Skemergrond aan te sluit. “As ek nie op stel is nie, voel dit soos ’n jeuk wat ek nie kan krap nie. Ek verlang daarna. Hierdie rol het my weer uitgedaag en verligting gebring ná projekte waar ek nie heeltemal tevrede was nie.”

Sy loopbaan strek oor verskeie mediums – van rolprente en televisie tot radio en musiek. In die afgelope jaar het hy, onder meer, verskyn in die Hallmark-rolprent Faith in the Flames en verskeie TV-advertensies. Hy sal ook binnekort in Take Out, ’n speelfilm vir die Tubi-stroomdiens, te sien wees. Benewens sy akteurskap is hy deel van die gewilde RnB-groep The Black Ties, wat al 18 jaar lank saam optree, en hy is daagliks op Smile 90.4FM aan die stuur van Lunch with Keeno-Lee.

Met Ice se terugkeer in Erica se lewe, kan kykers hulself regmaak vir emosionele oomblikke, onvoorspelbare draaie en die ontbloting van ’n kant van Erica wat lank onderdruk is. “Dit voel nog onwerklik om deel van Skemergrond te wees, maar ek is trots om by hierdie ongelooflike span aan te sluit,” sê Keeno.

  • Skakel van Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) in om te kyk hoe dinge in Skemergrond  nog warmer raak. Dié reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.