Die reeks begin waar dit sout is – by die soutpanne van Walvisbaai – waar Jan ondersoek instel na die verskillende maniere waarop sout gebruik word in kosvoorbereiding. Of dit nou pekel of braai is, sout speel ’n hoofrol. Daarna volg vis en skulpvis aan die kus, voordat die pad verder lei na die hart van Namibië se vleiskultuur – wildsvleis, bees, lam en selfs straatkos.
Hier is Jan se 10 dinge wat jy moet weet oor hierdie nuwe seisoen van Jan Braai vir Erfenis:
1. Daar word baie gebraai.
Minstens vyf keer per episode – en as die vuur lekker brand, selfs meer. Elke episode is ’n ode aan die braaivleis.
2. Temas van die land.
Elke episode het ’n spesifieke Namibiese tema soos sout, vis, kapana, bees of lam. Jan leer direk van die plaaslike inwoners oor hul bestanddele en metodes.
3. Jan Braai Boerewors in Namibië.
Dis reg – Jan se eie boerewors word nou ook in Namibië verkoop by Food Lovers Market-winkels. Dis dieselfde resep as in Suid-Afrika, met vyf smaakvariante: Original, kaas, varkwors, kerrie en salsiccia – alles gemaak met Namibiese vleis.
4. Namibiërs braai… baie.
Volgens Jan braai die mense van Namibië moontlik nóg meer as Suid-Afrikaners. Hulle is vriendelik, gasvry en ernstig oor hul kole.
5. Vat dit met ’n knippie sout.
Letterlik. Namibië het hope sout – veral by die soutaanleg in Walvisbaai. En as Jan ’n grappie maak, onthou maar punt vyf.
6. Die water is koud. Die bier is kouer.
Namibië se water kan jou laat rill, maar niks klop ’n ysige bier uit die bakkie se koelboks tydens ’n braai nie.
7. Proe ’n Raddler.
’n Bier met ’n soet twist – gemeng met lemonade – wat jy in enige winkel kan kry. Dis lig in alkohol en perfek vir warm braaidae. Iets wat Jan glo ons ook in Suid-Afrika kan probeer.
8. Biltong en Jägermeister.
Biltong is die nasionale peuselhappie in Namibië, en dit kom dikwels met ’n sopie Jägermeister. Jy’s nooit lank honger of dors nie.
9. Vleis van die beste gehalte.
Namibië het volop vrylopende beeste en skape – perfek vir braai. Vir iets maer en uniek is daar ook gemsbok, wat vry rondloop en heerlik op die kole is.
10. Die hout brand stadig – en dis goed so.
Namibiese hout is droog, maar vat sy tyd om kole te vorm. Gelukkig is daar genoeg tyd om iets te drink (sien punte 6, 7 en 8) terwyl jy wag.
Hierdie seisoen van Jan Braai vir Erfenis is nie net ’n kosreis nie – dis ’n liefdevolle blik op ’n buurland waar die kultuur, kos en mense almal warm onthaal. Maak seker jy kyk, en kry dalk sommer jou paspoort reg vir jou volgende braaivakansie in Namibië.
Jan Braai vir erfenis begin op Saterdag 5 Julie om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.