kyknet channel logo

Is Amerika regtig die beloofde land? Rian van Heerden se nuwe dokkiereeks stel ondersoek in

Nuus27 November 2025
Is Amerika werklik die land van hoop en drome – of bloot die volgende hoofstuk in Suid-Afrikaners se soeke na veiligheid en stabiliteit?
Beloofde Land

In Beloofde Land, ’n nuwe dokumentêre reeks van ses episodes wat op 7 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, reis Rian van Heerden deur Suid-Afrika en die VSA om hierdie omstrede onderwerp vanuit alle hoeke te ondersoek.

Die reeks delf in die lewens van Suid-Afrikaners wat die sprong na Amerika reeds gemaak het of oorweeg, en kyk indringend na hoe dié besluit hul identiteit, veiligheid, finansies en menswees beïnvloed het. 

Rian en sy span het eksklusiewe toegang gekry tot mense en gemeenskappe wat selde bereid is om hul stories op kamera te deel. Deur middel van gesprekke, deeglike ondersoeke en vergelykings tussen die twee lande, word temas soos vrees, hoop, verlies, isolasie, oorlewing en nuwe beginne oor die loop van ses episodes verken.

“Die verfilming van hierdie reeks het my baie gehelp met my eie worstelinge oor Suid-Afrika en sy toekoms. Ek dink elke kyker sal, soos ek, ná hierdie reis werklik genoeg insig hê om eerlik oor hul eie toekoms te besluit,” sê Rian.

Emigrasie na die VSA is al dekades lank deel van die Suid-Afrikaanse verhaal, maar toe president Donald Trump ’n uitvoerende bevel onderteken het wat aan Afrikaners spesiale vlugtelingstatus gee, het die debat weer opgevlam.

Van die grootste redes waarom Suid-Afrikaners die land verlaat, kom onder die loep wanneer slagoffers van traumatiese plaasaanvalle en ander gewelddadige misdade hul stories deel. Ons vind ook uit of van Suid-Afrika se grootste boere beplan om te bly of te gly.

In Amerika gesels Rian met Suid-Afrikaners wat vrywillig daarheen verhuis het, hetsy om professionele redes of as deel van die H2A-program, waarmee ’n groot aantal jong Afrikaanse boere na Amerikaanse plase gelok word. 

En dan is daar dié wat glo hulle het geen ander keuse gehad as om Trump se aanbod te aanvaar en as vlugtelinge te vertrek nie.

“Dit was vir my treffend hoe Suid-Afrikaners in Amerika, selfs ná jare daar, steeds iets mis – iets is nie daar nie, en selfs in die land, ooglopend van melk en heuning, kan baie van hulle dit nie vind nie. Dit was soms geweldig moeilik om met hulle te gesels, ook met diegene wat President Trump se destydse aanbod aanvaar het. Dit was asof heelwat van hulle se antwoorde op my vrae op ’n punt begin ooreenstem het,” sê Rian.

Deurgaans bly die sentrale vraag: Is Amerika werklik die beloofde land – of lê ons toekoms steeds hier, in Suid-Afrika?

Die reeks word deur Provoco vervaardig, Rian se produksiehuis, agter Schuster, Hougaard en Laataand by Rian.

  • Beloofde Land begin op 7 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.