Waar kom jou liefde vir DIY vandaan?
Lee-Ann: Ek was bevoorreg om in ’n huis groot te word waar dinge met jou eie hande maak, die normaal was. Ek is die jongste van 4 kinders en my ouers, twee sussies en broer is almal ongelooflik kreatief en braaf. Ons het ‘house flipping’ as ’n familie aangepak nog voor dit ’n trendy ding was om te doen en ek kon by elkeen van my familielede soveel waardevolle lesse leer. Van lap, tot klei, houtwerk, skets, verf, tuinmaak, messel, plavei - ons het dit self gedoen en ek is baie dankbaar vir al die praktiese kennis wat dit vir my gegee het.
Johann: Ek het grootgeword met ’n pa en oupa wat enige ding self kan doen (Oupa Manus het selfs sy eie swysmasjien gebou!). Meeste naweke tydens my grootword-jare is daar aan iets gewerkskaf in of om die huis en dit is definitief daar waar my liefde vir selfdoen-projekte gekweek is. Verder was my gunsteling-speelgoed Lego en kon ek myself vir ure vermaak in my kamer waar ek die wonderlikste strukture en wêrelde kon skep met my blokkies.
Wat is die eerste projek wat jy ooit aangepak het?
Lee-Ann: Soos ek genoem het, is ek al van kindsbeen af saam met my gesin besig met projekte in en om ons huise. Ek kan nie my eerste projek onthou nie, maar my oudste sussie se vriendin het onlangs laat weet sy onthou toe sy by ons kom kuier het as kind, hoe ek en my boetie gehelp het met plaveisel. Ons was seker 5 en 7 jaar oud!
Johann: Ek en Madeléne was net getroud en het in ’n twee slaapkamer woonstel gebly toe ek besluit het om ’n kas vir ons woonkamer te bou. Die gang, gastekamer en selfs kombuis was my werkswinkel en vir ’n paar dae was alles in ons woonstel onder stof! Ek het met baie min gereedskap (en kennis) die kas aanmekaar getimmer - hy pronk darem nog steeds in ons eetkamer.
Wat is die grootste (of duurste) fout wat jy al gemaak het tydens ’n DIY-projek?
Lee-Ann: Ek het melamien probeer verf met ’n verf wat alreeds ’n ‘primer’ in het. Ek het twee lesse geleer... Eerstens, moet nie melamien probeer verf nie! En tweedens as jy regtig moet, gebruik ’n ordentlike primer voor jy verf, anders sit jy met ’n goedkoop koop is duur koop storie en dubbel werk.
Johann: Ek het besluit om my ouers se TV-kas vir hulle te up-cycle deur dit met ’n donker hout stain te behandel. Natuurlik moet die vernis van 30 jaar eers afgehaal word. Ek het nie geweet dat mens iets soos verf-stripper kry nie en het vir dae (dalk selfs weke) lank my hande deur geskuur om al daai vernis af te kry!
Wat is een projek wat jy nog sal wil aanpak?
Lee-Ann: Ek wil baie graag ons eie tiny home bou, vir my en my man en al ons diere kinders. Ek sal baie graag met herwinde en natuurlike materiale wil werk wat uit die onmiddellike omgewing verkry word!
Johann: Om vir my `n werkswinkel aan te bou en dit self in te rig presies vir my behoeftes en met alles wat ek benodig om na hartelus te DIY wanneer ek wil (sonder om aan die einde van die dag/naweek eers die garage te moet skoonmaak om die motors weer in te trek).
Skakel vanaand om 20:00 in om te sien hoe dié duo se eenheid te sien en gesels saam deur die hutsmerk #KleinParadys te gebruik op Facebook, Instagram, X en TikTok.