Waar kom jou liefde vir DIY vandaan?
Gerrie: Ek hou nog altyd daarvan om goed met my eie hande te maak (die satisfaksie van ’n selfgemaakte ding wat werk is wonderlik). Ons het mekaar ontmoet as joernaliste, so vir die eerste ruk was dit ook maar ’n geval van jy kan nie die duur ding koop nie, so maak dit eerder self en spaar geld.
Maggie: Ek het in ’n huis grootgeword waar daar baie goed self gedoen en gemaak is. Dis vir my so bevredigend om ’n projek klaar te maak en te weet daai is mý sukses. Met inligting en videos nou letterlik in die palm van my hand, is dit byna oorweldigend om te dink aan alles wat ek self kan regmaak, installeer of skep.
Wat is die eerste projek wat jy ooit aangepak het?
Gerrie: Ek het op hoërskool ’n elektriese kitaar gehad, en het vir hom 'n tas gebou uit hout uit. My pa het net die basiese gereedskap, soos ’n paar skroewedraaiers en ’n hamer, in sy garage gehad, so ek moes maar planne maak om goed te maak werk met dit wat ek gehad het.
Maggie: Ons eerste huis in Belville! Dit was ’n klein en afgeskeepte ou huis. Ons het hom van binne af buitentoe oorgedoen. Ek het baie geverf en Gerrie het baie kaste uitgeruk en ingebou. Ons het hom toe op die ou einde vir byna 100% wins verkoop.
Wat is die grootste (of duurste) fout wat jy al gemaak het tydens ’n DIY-projek?
Gerrie: Is dit ’n fout as dit in ’n feature omskep word? Ek het al menige duur stukke hout opgesny om iets te maak, net om op die ou einde nie tevrede te wees met die eindresultaat nie. Dan moes ek maar ’n plan maak om dit te maak werk, en die fout in ’n feature verander. Of net baie mooi wegsteek. Daar is ook al 3 uitstappies ongevalle toe waar ek en ’n tafelsaag en my vingers mekaar misverstaan het - dit was nogals duur - elke keer.
Maggie: Daar is maar altyd klein jakkalsies en ek het nog nooit ’n DIY-projek "perfek" voltooi nie. Ek probeer ook altyd tweedehandse materiaal koop en regkom met wat ek het, so die flops is darem altyd redelik bekostigbaar. Ek het een keer in my onkunde baie lelike en duur lap gekoop vir ‘n tong-in-die-kies pajamapakkie? Ek het nogsteeds meters daarvan oor. Laat weet my as iemand ‘n luipperdmotief-rok soek.
Wat is een projek wat jy nog sal wil aanpak?
Gerrie: Ek is tans besig om ’n console-tafel te bou vir ons woonkamer. Ek sal, sodra ons die sente bymekaar kry en ’n braaikamer aanbou, ’n ordentlike, soliede houttafel wil bou - ’n swaar ding wat stewig sal staan en baie kuiers sal deurstaan.
Maggie: Daar is so baie! Ons soek verskriklik graag ’n braaikamer/lapa sodat ons gedurende die Kaapse winter ook kan braai. En ek is baie gretig om vir ons jongste ’n kamer aan te bou – maar uit ’n skeepshouer. Dit sal vir ons huis se vooraanslag ook ‘n hupstoot gee.
Skakel hierdie Donderdag om 20:00 in om te sien hoe dié duo se eenheid lyk en gesels saam deur die hutsmerk #KleinParadys te gebruik op Facebook, Instagram, X en TikTok.