Logo

Hoogtepunte in September op die kykNET-kanale

Nuus
01 September 2025
Hier is wat in September voorlê op kykNET, kykNET&kie en kykNET NOU!
September highlights

kykNET



Jou MASE taal


’n Reeks wat fokus op bruin en swart Afrikaanssprekendes se komplekse verhouding met die taal. Dié dokumentêre reeks wat deur IdeaCandy vervaardig is en met Stephanie Pekeur in die regisseurstoel, ontrafel hoe die sprekers met die taal omgaan, hoe dit hulle laat voel en in watter mate hulle die taal omarm of verwerp. Daar word gefokus op temas van identiteit, onderwys, die werksplek en politiek.

Met Fatima Abdool, Moenier “Monox” Adams, Terry-Ann Adams, Earl Basson, Allan Boesak, Deon Daniels (“DJ Ready D”), Christo Davids, Quintin “Jitsvinger” Goliath, Ephraim Gordon, Jason “Hakkiesdraad” Hartman, Edward Charles Human, Virginia Keppler-Young, Llewellyn MacMaster, Rozanne McKenzie, Pulane Nel-Sekepe, Janine “Blaq Pearl” Overmeyer en Chrislynn Sias.

Jou MASE taal begin Sondag 21 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Spoorloos: Losprys

Spoorloos se vyfde seisoen, Spoorloos: Losprys, is, soos die vorige seisoene, ’n losstaande spanningsverhaal.

2 September

Die Lourense word in ’n krisis gedompel op die dag wat Karla getuienis moet lewer, en Lynette probeer dringend vir Robbie opspoor. Anita maak haarself tuis op Helderveld, en Brand ontvang ’n skrikwekkende boodskap.

9 September

Met die wildveiling om die draai, besluit Brand om sake in eie hande te neem. Anita spin 'n web vir Robbie, en die Moutons word by die Lourense se krisis betrek.

16 September

Frank kom af op ontnugterende inligting en moet keer dat dit nie die reddingspoging stop nie. Anita verklap Karla se geheim aan Lynette. Robbie sweep sy rugbyspan op, en 'n heksejag mik na Helderveld.

23 September

Brand versterk sy houvas, en terwyl Frank weier om die verlede te laat gaan, besef Lynette daar is niemand om te vertrou nie. Die Moutons kry ’n skok-oproep, en Robbie vind homself in diep moeilikheid.

30 September

Abraham moet pa staan vir die foute van sy verlede, en Anita raak in haar eie web verstrengel wanneer Robbie onder die druk begin knak. Hoe nader Frank aan die waarheid kom, hoe meer leuens vind hy om oop te vlek.



Spoorloos: Losprys word Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Vanjaar se Silwerskermfeesfilms op kykNET


Die laaste springmieliekrummels is pas opgevee ná vanjaar se Silwerskermfees, maar kykNET-kykers het reeds begin om die kortfilms en dokumentêre wat by die fees gedebuteer het, te geniet.

Só lyk die skedule vir September. Die kortfilms is op Saterdagaande, en die dokumentêre films op Sondagaande.

6 September

20:30

Totsiens, Selina

Totsiens, Selina vertel die verhaal van Selina, die vrou wie se vertroostende teenwoordigheid in die Swanepoel-huishouding vir jare as vanselfsprekend aanvaar is. Met Clementine Mosimane, Lorraine Burger, Maki Mokhitli, Francois Lensley en Erasmus Esterhuizen.

20:55

Kinnetafel

Die komedie-drama Kinnetafel se reklamereël sê dit alles: “Geheime aan tafel, messe in die rug.” Met Braeden Buys, Lauren Joseph, Melanie du Bois, Veronique Jephtas, Euodia Samson en Royston Stoffels.

21:15

Bly

’n Storm woed buite terwyl ’n bejaarde egpaar, vertolk deur Anton Dekker en Karin Retief, se plan om hul lyding te beëindig, begin ontrafel wanneer hul kleindogter, gespeel deur Liza du Plessis, in lewensgevaar beland.

21:40

ARK

Noa (Ben Albertyn) en Mira (Kristen Raath) bevind hulle in ’n ruimtetuig na Mars. Die voortbestaan van die mensdom hang van hulle twee af, maar daar’s baie bagasie wat ’n mens op pad na ’n nuwe begin saamdra. Gaan Noa en Mira hul sending kan voltooi?

7 September

20:00

Tussen Hemel en Aarde

 Tussen Hemel en Aarde handel oor die ondenkbare hartseer wat die Springbok-rugbyspeler Jannie du Plessis en sy vrou, Ronel, op 16 November 2021 beleef het: die verdrinking van hulle tien maande oue babaseuntjie.

20:45

Felix by die koppie

’n Persoonlike blik op die gebeure tydens die Marikana-slagting soos gesien deur die oë en lens van die bekende fotojoernalis Felix Dlangamandla.

13 September

20:30

Alma op pad

Alma op pad verken die impak van besluite wat geneem word wanneer dinge skielik verander. Die 12-jarige Alma (Chrystal Conradie) se ma wil van die gesin se jarelange tradisionele vakansiebestemming wegbreek. Sy smag na iets anders, maar haar man is glad nie gelukkig met die idee nie. Ook met Laudo Liebenberg, Amalia Uys en Gerhard Conradie.

21:00

Tussen die kwashale

Die 11-jarige Tyron (Jihad Otto) het sy kunssinnige ma, Anna (Monique Rockman), aan die dood afgestaan. Tyron is outisties, en hy vind troos deur te skilder.

21:30

Min of Meer

Die storie van Jana wat begeer om ’n meermin te wees en haar geliefde man, Jakob, wat haar droom ten alle koste moontlik wil maak. Met Liezl de Kock, Tiaan Slabbert, Neels Clasen, Zak Hendrikz en Craig Urbani.

14 September

20:00

Verander

Die emosionele en politieke reis van Lourens Jacobs, voormalige sekuriteitshoof van president Nelson Mandela. Dit werp lig op wie Lourens was voor Suid-Afrika se oorgang na demokrasie in 1994 en ondersoek sy rol in ’n tyd van politieke spanning en verdeeldheid

20:45

Jan Bloed

’n Kort dokumentêre rolprent oor ’n voormalige bendelid van Westbury. Sy regte naam is Alister Fortuin, maar as Jan Bloed was hy eens ’n lid van die Fast Guns en ook van die Varados-bende. Alister deel sy lewensverhaal en vertel meer oor sy kinderdae, sy familie en die bendelewe.

20 September

20:30

Sewe

Michelle (Karlé Briedenhann) is vasgevang in ’n verhouding wat al hoe meer manipulerend en gewelddadig word. Tog kan sy Francois (Viljé Maritz) “nie net los nie”.

21:00

Die Superette

’n Aksie-komedie wat in ’n hoekkafee afspeel. Tannie Sonja (June van Merch) is die vlymskerp kassier, en wanneer twee gemaskerde rowers, Bompie en Lange, inbars en geld eis, ontaard die situasie in ’n gyselaarsdrama. Ook met Dirk Stoltz, Marunzo Thomas en Tyron McKinnon.

21:30

Hier

Twee karakters se lewens oorvleuel met mekaar oor ses generasies heen in hierdie kortfilm waarin romanse, wetenskapsfiksie, aksie en drama met iets bitter onheilspellends opgeklits word. Met David Viviers en Anja Taljaard.

Die kortfilms en dokumentêre films is te sien op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Magda Louw

1 September

Magda maak ’n skokkende aanname, en sy vra vir Sean om haar te help om die waarheid uit te vind. ’n Ontstellende oproep bring Magda se wêreld tot ’n stilstand.

8 September

Almal is bekommerd oor Baltus, terwyl Sean se vlinders weer wakker skrik vir Lynette. Magda en Erhard is in sak en as oor die Oueteparadys.

15 September

Magda moet ’n paar kilo’s verloor vir die troue en probeer ’n onderbroke vas-dieet, maar dis meer ingewikkeld as wat sy gedink het. Die Louws kry ’n onverwagse gas.

22 September

Almal is opgewonde oor Ferdinand se nuus, maar dis eintlik ’n groot misverstand. Erhard sukkel om die harde werklikheid te aanvaar. Magda werk aan ’n toespraak waarvoor niemand gevra het nie.

29 September

Sean en Baltus besef hulle moes Havenga se ramparty gereël het, en hulle het niks tyd oor nie. Magda is bekommerd oor een van Gertrude se groot besluite.

Magda Louw is op Maandae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.



Boer soek ’n vrou

4 September

Die pasmaats arriveer op die plase. Hulle gaan vir ’n week lank saam met die boere woon en werk, en kyk of liefde wel kan ontwikkel tussen een van die paartjies.

11 September en 18 September

Die boere neem hulle pasmaats op ’n avontuur weg van die plaas af om te kyk of verhoudings kan groei. Verrassende nuus vang die boere onkant.

25 September

Dit is die laaste voldag op die plaas. Die spanning bou op, want elke boer moet binnekort weer ’n keuse maak. Almal kry tyd om individueel met mekaar te gesels.

Boer soek ’n vrou is op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Sepies



Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Louis en Naomi het hulle hande vol met die aanneming – veral met die maatskaplike werker. Thalia spartel behoorlik om by haar rol as Tonik se tydelike bestuurder aan te pas. Tertius roep Lukas se hulp in nadat Tracy in ’n ernstige motorongeluk betrokke was. Rentia en Le Roux is terug, en ’n reuseverlies ruk almal by Binneland tot stillstand.

Nicolette is bekommerd oor Tertius se gemoedstoestand, en Jess en Petro besluit om Thalia met ’n fondsinsamelingsprojek te help. Joe en Anya loop mekaar raak, en Max vaar uit teenoor ’n kollega wat oënskynlik ’n fout begaan het. Louis en Naomi maak kennis met ’n dogtertjie.



Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

In September wag daar intense drama in Suidooster. Daar hang talle vraagtekens oor Mike en Amanda se huwelik, en dan neem Mike ’n drastiese besluit oor hul toekoms. Dit dwing Amanda om pynlike introspeksie te doen, terwyl Frankie se wêreld ineenstort wanneer sy agter die kap van die byl kom.

Intussen beplan Siya en Bianca hul troue, ten spyte van Brendan se openlike weerstand teen sy nuwe stiefma. Sy optrede raak gevaarlik en dan gebeur iets skokkends.

Shandy se wraakplan loop skeef, en Nazeem moet tussen liefde en lojaliteit kies – besluite wat sy verhouding met die Jacobs-familie op die spel plaas. Terselfdertyd lei Angie se soektog na ’n assistent tot talle komiese oomblikke wanneer die flambojante Tino sy verskyning maak by Nail’d It.

September bring dus ’n goeie dosis van gebroke harte, nuwe beginne, gevaarlike geheime en onverwagse humor wat kykers vasgenael sal hou.



Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Daar is oomblikke van hartseer afsluiting met Bianca se begrafnis, maar dan ook blydskap wanneer Lettie en Henry die groot stap neem om Penny te laat doop. Daar hang egter onheil in die lug met ’n indringer wat op die dag by die doop ronddwaal.

Die Viljoen-gesin kry baie aandag en belangstelling, maar dit neem nie lank voor van die Viljoen-kinders se gedrag onder die vergrootglas kom nie. Daar is natuurlik ook gevolge vir hul aksies, wat uiteenlopende reaksies uitlok. 

Dit is egter die einde van die maand en die einde van seisoen drie van Diepe waters, wat almal aan die praat gaan hou. Net wanneer kykers gereed maak vir ’n gelukkige einde, daag iemand op wat meer vrae as antwoorde ontketen. Wat begin as groot opwinding en feesvieringe, eindig in hartseer en teleurstelling.

kykNET&kie



Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Hierdie September word Gemoedsdrif geskud deur die terugkeer van Ice – ’n man wie se verskyning ou wonde oopkrap, gevaarlike spanning laat opvlam en dreig om lewens omver te gooi. Sy teenwoordigheid beteken moeilikheid vir beide Erica en Louis. Ice probeer om nader aan hulle te kom en deel onthullings met Erica wat haar in konflik en skuld laat beland. Louis en Ice kom aanvanklik oor die weg, maar krake verskyn gou, met Ice wat moeilikheid maak vir Louis terwyl hy sy eie vrees vir die polisie wegsteek.

Intussen staar Ronnie sy eie moeilikheid in die gesig met ontstellende nuus oor sy werk wat tot 'n amptelike ondersoek van die mediese raad lei. Skinderpraatjies dwarrel deur die gemeenskap, en ’n artikel oor hom skok almal. Ronnie deel meer inligting oor die saak met Junior, probeer positief bly en berei voor vir sy verhoor. Die verrigtinge bring skokkende getuienisse wat Gemoedsdrif ontstel, en Christine gebruik die geleentheid om die slagoffer te speel en diegene rondom haar te manipuleer.

Te midde van die chaos neem Patty se liefdeslewe onverwagte draaie. Sy erken aan Manny dat sy smag na romanse en moet ongemaklike ontmoetings, bemoeisieke vriende en selfs ’n oorweldigende Boer soek ’n vrou-videonopname trotseer. Met Manny en Tillie wat planne beraam en ander wat ongevraagde raad gee, is Patty se reis vol humor, frustrasie en groot besluite. Sy ontvang ontstellende nuus, weeg haar opsies op en beweeg nader aan ’n finale besluit oor haar romantiese toekoms.

Sê jou sê

7 September

Ons bespreek dobbelverslawing. In die ateljee is ’n verslaafde, ’n gerehabiliteerde verslaafde en ’n kenner wat weet hoe om dit te hanteer.

14 September

Boelies is ’n groot probleem op skool. Ons gesels met ’n slagoffer en haar ma-hulle en bespreek die oorsake van die fenomeen.

21 September

Ons gesels oor kinders wat sonder ’n ouer grootword en die impak wat dit op hulle het.

28 September

Ontvoerings is deesdae groot nuus en daar is twee slagoffers in die ateljee.

Sê jou sê is Sondagaande om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.