Kokkedoor: Vuur & vlam
Kokkedoor: Vuur & vlam is terug en beloof om oudergewoonte ’n wenresep vir groot kykgenot te wees. Dié kosreeks, wat in die Overbergse kusdorp Struisbaai verfilm is, begin Donderdag 6 Februarie om 20:00 op kykNET.
Kykers het in 2013 vir die eerste keer aan die Kokkkedoor-tafel kom sit en oor die jare het nog familielede van die reeks (Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie) aptytlike vermaak verskaf.
Vir Kokkedoor: Vuur & vlam, waarvan die eerste seisoen in 2023 uitgesaai is, moet deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster voorberei.
Die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha is oor 13 episodes op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en ’n kinkelbraaier.
Onthoubraaiers het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar hul harte klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos.
Kinkelbraaiers word gekies vir hul kwalifikasies en/of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.
Talle kos- of produkspesialiste, asook ’n bekende persoonlikheid of twee, maak verskynings in die reeks, terwyl die bekroonde kosskrywer en SARIE KOS-redakteur, Herman Lensing, en kosfoendie Errieda du Toit deel is van Kokkedoor: Vuur & vlam se vervaardigingspan.
Die onthoubraaiers is Godfrey Davids, ’n tegniese klerk van die Paarl, Jay Maan, ’n oopvuursjef van Pretoria, Benjie Benjamin, ’n hoogspanningselektrisiën van Kimberley, Suzie Wandrag, ’n inhoudskepper van Strand, Ferdi Uys, ’n produksie-adviseur in die mynbedryf van Struisbaai, Martin Steyn, ’n predikant van Stellenbosch, Nelia Lombard van Bellville, wat in die kunsdepartement in die filmbedryf werk, Johan van der Watt, ’n argitek van Bellville, Johan de Villiers, ’n operasionele bestuurder op ’n plaas buite Durbanville en Liz Nass, ’n entrepreneur van Pretoria.
Die kinkelbraaiers is Lorianne Heyns, ’n sjef van Milnerton, Charlotte Minnaar, ’n spysenier van Centurion, Francois Binneman, ’n sjef van Gqeberha, De Wet Visser, ’n verteenwoordiger by ’n kosmaatskappy van Welgelegen, Hettie Jansen, ’n spysenier van Windhoek, Vendi Klaushofer, ’n sjef van Pretoria, Lourens Engelbrecht, ’n sjef van Pretoria, Mike van Rooyen, ’n konsulterende sjef van Johannesburg, Nelda Buhr, ’n kunstenaar van Malmesbury en Stefan Weitz, ’n sjef van Observatory in Kaapstad.
Kokkedoor: Vuur & vlam begin Donderdag 6 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Kyk wie praat
Maak gereed vir ’n rits lekkerlag-saamkuiersessies met die vierde seisoen van kykNET se vermaaklike Kyk wie praat-vasvraprogram. Die gewilde akteur en programaanbieder, De Klerk Oelofse, noem die jong deelnemers aan die program “klitse” – en ’n meer gepaste woord vir dié deelnemers kan daar nie wees nie.
Eintlik is hulle meer soos klitsgras op ’n wolkombers – op die beste moontlike manier. En kykers kan maar weet, die uitgesprokenheid wat gepaardgaan met daardie spesiale kinderlike onskuld, gaan baie diep in hulle harte inkruip.
“Ek dink die magic van die program lê vasgevang in die onskuld. Klein mensies ervaar die lewe net soos ons, maar die onskuld en eerlikheid waarmee hulle dit kan verwoord, is skreeusnaaks en soms hartroerend waar,” is hoe De Klerk die reeks opsom.
Hy was van die eerste reeks af die fasiliteerder en aanbieder, en soos met die vorige reekse, gaan De Klerk se bekkige klitse, almal tussen die ses en nege jaar oud, vier grootmense behoorlik op hulle tone hou. Dit is wel ’n vasvraprogram, maar dis een met ’n kinkel.
De Klerk rig vrae aan die kinders, en daarna moet die volwasse deelnemers raai watter een van dié wysneuse met die antwoorde vorendag gekom het. Ronde ná ronde word die ouer en gryser (maar nie noodwendig wyser) deelnemers uitgeskakel tot net een oorbly. Daardie deelnemer kan ’n kontantprys van tot R30 000 in die sak steek. En dis nie al nie. Daar is ook ’n boerpotprys van R100 000 vir die reekswenner op die spel.
Kyk wie praat begin op Woensdag 5 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Die Byl
4 Februarie
Jo vermoed die nommers op die slagoffers se nekke dui op ’n militêre agtergrond. Eliaan orkestreer ’n skokkende konfrontasie tussen twee mans, terwyl Nicki slegte nuus oor haar gesondheid ontvang.
11 Februarie
Die span word by ’n grusame saak betrek wanneer verskeie lyke gevind word met tekens van rotkoors en menslike DNS in die wonde. Eliaan teiken ’n joernalis as haar volgende slagoffer.
18 Februarie
Wanneer ’n resensent se liggaam gevind word, moet die span spring om die moordenaar vas te trek. Byl-hulle maak ’n groot deurbraak in die ondersoek van die sewedoodsondesmoorde.
25 Februarie
’n Reeksmoordenaar teiken rugbyspelers. Eliaan se motivering word al hoe duideliker, en Opperman klop onverwags aan Byl se deur.
Die Byl se sesde seisoen word Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Sakegesprek met Theo Vorster
Die nuwe seisoen van Sakegesprek met Theo Vorster skop op Woensdag 5 Februarie om 21:00 af. Theo, die medestigter en uitvoerende hoof van Galileo Capital, het ’n groot groep kenners bymekaar gekry en hulle gaan alles van die ekonomie en landbou tot finansiële markte en politiek bespreek. Kykers sal ook advies van verskeie finansiële spesialiste kry wat hulle sal help om die regte besluite oor hul geldsake te neem.
In die eerste episode gesels Theo met dr. Piet Croucamp oor politieke tendense in 2025, asook met Jacques Taylor van CNH oor landbou en met Tim Acker van Allan Gray, wat oor beleggings praat.
Van die ander gaste wat deel van hierdie seisoen gaan wees, sluit in prof. Jannie Rossouw van Wits se bestuurskool, dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer wat oor vanjaar se begroting sal praat, en Johan Gouws, wat meer oor sy boek Your Ultimate Personal Finance Guide gaan vertel. Chantal Marx sal saam met Theo die finansiële markte bespreek en verduidelik hoe dit kykers se beleggingsbesluite kan beïnvloed.
Sakegesprek met Theo Vorster begin op Woensdag 5 Februarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Niggies: Dramareeks gegrond op ’n grusame ware misdaad op pad in Maart
In 1965 is die jong Issie Fourie en Petro Nel in die rustige dorpie Odendaalsrus in die Vrystaat ontvoer en vermoor. Issie se broer, André, sweer om alles in die stryd te werp om die skuldige aan die pen te laat ry.
Niggies, ’n dramareeks gebaseer op hierdie misdaad wat die land geruk het, is geskep deur ’n gedugte span – voor en agter die kameras – en sal in Maart vanjaar op kykNET debuteer. Die regisseur is die veelbekroonde Jaco Bouwer, wat nie net bekend is vir sy grensverskuiwende teaterwerk nie, maar ook vir die internasionale trefferreeks Spinners, wat in en om Kaapstad verfilm is.
Beer Adriaanse, bekend vir flieks soos Wonderlus en Kanarie, asook reekse soos Hotel en Taktiek, vertolk die rol van die ouer André. Die talentvolle nuweling Janru Steenkamp speel die jong André. Ook te sien is Carel Nel (Donkerbos, Hartstog), wat verskyn het in die HBO Max-reeks Raised by Wolves, en die internasionaal bekroonde ekoriller Gaia, waarvan Bouwer ook die regisseur was.
Niggies begin met die dubbele ontvoering en moord van Issie Fourie en Petro Nel in Odendaalsrus in 1965, maar die reeks strek oor die 1960’s en 1980’s. Die gebeure speel af in Odendaalsrus, Allanridge en Kroonstad in die noordoostelike Vrystaat, ’n konserwatiewe deel van ’n konserwatiewe land waar die moorde soveel te meer skokkend was.
Die première-datums en ’n meer volledige rolverdeling sal later bekend gemaak word. Besoek kykNET se webwerf en sluit aan by die gesprek op kykNET se X-, Instagram-, TikTok- en Facebook-bladsye.
Herders
2 Februarie
Ons besoek die NG Kerk Universiteitsoord en leer vir ds. Anuschka Smit ken. Daarna maak ons ’n draai by pastoor David Grobler se Unite180-kerk, wat deesdae blykbaar ’n mekka vir jong gelowiges is.
9 Februarie
Ons besoek Velddrif en ontmoet pastoor Christopher Horn van die plaaslike Pinksterkerk, waarna ons ds. Natasha du Plessis se diens in die Vrystaatse plaasdorpie, Luckhoff, bywoon.
16 Februarie
Ons besoek twee bekende sangers wat die kollig verlaat het om die bediening te betree. Ds. Innes Benade en pastoor Heinz Winckler volg deesdae hul ware roeping om ’n verskil te maak.
23 Februarie
Ons ontmoet twee herders oor wie die tonge gereeld los is en wat soms selfs die koerante haal: Rooies Strauss van The Miracle Place en profeet Graeme Williams van Fire Torch Ministries.
Herders word Sondae om 20:00 uitgesaai, net op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Fliektyd
Twee oorspronklike Afrikaanse flieks is in Februarie vir die eerste keer op kykNET te sien.
Matilda & Matthys
’n Ambisieuse jong skrywer en die ontwikkelaar van ’n nuwe dating app, gaan op ’n reeks afsprake om navorsing te doen vir hulle onderskeie projekte, maar selfs die slimste mense het geen weerstand wanneer dit by die liefde kom nie. In die rolverdeling is Emma van Heyn, Adrian Steyn, Bertha le Roux-Wahl, Elzabé Zietsman, Pietie Beyers en die komediant Mojak Lehoko. Matilda & Matthys is die digter en skrywer Bibi Slippers se filmdebuut as skrywer-regisseur en is ook op Showmax te sien.
Matilda & Matthys is op 15 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Hier.Na
Een van die trefferflieks by verlede jaar se Silwerskermfees, maak in Februarie ’n draai op kykNET. Hier.Na, die aktrise Quanita Adams se debuut as speelfilmregisseur, vertel die verhaal van die Burgess-familie – ’n tipiese, moderne, kultureel gemengde Suid-Afrikaanse gesin in die noordelike voorstede van Kaapstad. Eric is nie vas aan enige geloof nie, maar sy vrou, Juleigha, wat verkies om Julie genoem te word, is ’n niepraktiserende Moslem.
Eric en Julie het twee kinders. Dean is ’n professionele aanlyn gamer, en Leila is ’n mediese student wat haar Moslem-identiteit herontdek het – iets wat haar ma erg irriteer. Toe Julie skielik sterf, onderneem Leila om vir haar ’n Moslem-begrafnis met die hulp van Julie se ma te reël.
Die draaiboek is deur Quanita geskryf, en in die rolverdeling is, onder andere, David Isaacs, June van Merch, Trudy van Rooy, Shiefaa Hendricks, Lyle October, Beer Adriaanse en Emile Smit. Hier.Na was die wenner van vier Silwerskermtoekennings: Beste aktrise (June van Merch), Beste vroulike byspeler (Trudy van Rooy), Beste kostuums (Ayesha Khatieb) en Beste kinematografie (Ebrahim Hajee).
Hier.Na is op 22 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Sepies
Binnelanders
Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
Tertius en Tracy se langverwagte troudag breek aan, en twee verliefde dokters vind mekaar uiteindelik. Intussen hou almal hulle asems op oor Louis se hofverskyning. LJ en Thalia vertrek op ’n musiekfees, en dinge raak interessant wanneer Sally besef Riekie en Ella ken mekaar.
Ongevalle raak besig, té besig, en Mercia arriveer in Suid-Afrika. ’n Nuwe kelnerin begin Mimi’s werk. ’n Inspuitingnaald saai paniek, en ’n Kiepersol-dame maak haar opwagting. Delia stel ’n nuwe personeellid aan wat die res van Binneland se personeel se vere roer.
Suidooster
Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)
Kaashifa se paranoia as nuwe ma raak al hoe erger. Dit skep nie net spanning in haar huwelik nie, maar ook in die Samsodien-gesin en met haar vriende. In die maand van liefde moet Riaan besef die skrif is aan die muur en die gevolge van sy besluite dra. Die ondersoek na wat met Damian gebeur het, duur voort, en talle van Ruiterbosch se inwoners is steeds op hete kole oor die saak. ’n Ou vriend van Susan, Cilliers, daag op in Ruiterbosch, maar Susan vertrou nie die vrede nie. Is daar ’n geraamte in Cilliers se kas? Carlo moet geld bymekaarmaak om sy poegie te koop en begin by Nazeem werk. Justin en Gary droom in hul dronkenskap ’n app uit, maar dit blyk toe dat dit tog ’n blink idee was.
Diepe waters
Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
Die soektog na Lucas raak freneties in die eerste week van Februarie, met spanning wat tussen Nelius en René opbou. Namate die soektog al hoe meer desperaat raak, begin geheime na vore kom. Intussen ondergaan Rossouw se persoonlike lewe verrassende veranderinge.
Karla en Juvan besluit om die soektog na Lucas in hulle eie hande te neem. Terselfdertyd speel Gys ’n gevaarlike speletjie, terwyl Lucas in sy verswakte toestand veg om oorlewing. Daar is ook drama in verhoudings, met Zelda se trouplanne wat ekstra spanning veroorsaak.
kykNET&kie
Skemergrond
Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)
Ronnie probeer sy bes om ’n beter man vir Hazel te wees en wil graag sy troubeloftes aan haar hernu, maar sal Hazel so maklik kan vergewe? En net wanneer die Louws dink alles is weer op koers op Everlasting, begin Christine weer met haar gekonkel. Lily en Amber ontdek iets wat die plaas net dalk uit Christine se kloue kan hou.
Beeno is vasberade om met Gloria te trou, terwyl Ruan hard werk om hom vas te trek. En Tanne is dalk die antwoord waarna Ruan soek. Terwyl Tanne homself in Gemoedsdrif posisioneer as een van Beeno se handlangers, plaas Ruan al hoe meer druk op hom. En tyd raak min vir die Cloetes wanneer Brandon uit die bloute ’n boodskap van Beeno kry. Is dit tyd om weer te hardloop?
Koortjies met Elwira Standili
Donavan Minnies en Alvino January van Men of War, asook die kunstenaar Mark Jenneker, sluit by ons aan om hul inspirerende reis na soberheid na jare van verslawing met ons te deel. Liezel Solomons deel hoe sy haar niggie, baba Gracelyn aan 'n seldsame bloedkanker verloor het. Organisasie DKMS verduidelik stamselskenking. Lorenzo Grispe bederf ons met haar musiek.
Ons vier die maand van liefde saam met inspirerende egpaar Rodney en Maria Lakay. Albei het hul bene in 'n motorongeluk verloor. Kunstenaar Deeolin Brits neem die kollig met sy wonderlike stem. Aktrise Melissa De Vries deel haar storie van emosionele mishandeling, terwyl sielkundige Kelly Christians raad gee oor hoe om dit te hanteer. Jody Pietersen is terug met nog wonderlike musiek.