kyknet channel logo

Hoogtepunte in Desember op die kykNET-kanale

Nuus01 Desember 2025
Hier is wat in Desember voorlê op kykNET, kykNET&kie en fliekNET!
Desember hoogtepunte

Die jaar is op sy rug, en vir meeste mense wag ’n blaaskans om reg te maak vir 2026.  kykNET is daar om te sorg vir vermaak uit die boonste rakke met onder meer Ek, hy en jy, ’n romantiese dramareeks van drie episodes, fantastiese vakansiekos in Kokkedoor: Son en see en skitterende vermaak met Leon Schuster-flieks, Krone 2025 en Chasing the Sun 2.

kykNET



Appels en tee

2 Desember

Henriette staan voor ’n groot besluit. Francois word verras deur ’n spesiale matriekafskeid, terwyl Jakkals ’n spesiale oomblik vir Griet beplan. Dawid ontdek iets wat alles omver kan gooi.

9 Desember

Lisa beplan ’n reis, maar Griet se gesondheid maak dinge moeilik. Intussen neem Jakkals se planne ’n onverwagte wending. Dawid deel inligting wat almal se toekoms kan bedreig.

16 Desember

Henriette en Lisa se gespanne verhouding bereik breekpunt met ou wrokke wat na vore kom. Intussen dwing ’n stormagtige nag Annie om 'n lewe-of-dood-situasie te beredder.

23 Desember

In die finale episode laat ’n storm Annie en Francois gestrand, terwyl Lisa en Henriette al weer stry kry. Familiegeheime ontrafel, en die toekoms van die teetuin is in die weegskaal. ’n Onverwagte besoeker daag op.

Appels en tee is op Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.



Ek, hy en jy

So net voor die jaar sy laaste asem uitblaas, begin ’n minireeks op kykNET wat jou ’n nuwe huppel in die stap gaan gee. Die eerste aflewering van dié ligte romantiese drama van drie episodes word op Dinsdag 30 Desember om 20:00 uitgesaai.

Ek, hy en jy vertel die verhaal van Soefie wat nog altyd haar jonger suster, Katrien, se behoeftes bo haar eie gestel het. Sedert hulle ouers se dood, sestien jaar gelede, dra Soefie die groot verantwoordelikheid om na Katrien om te sien, en sy sorg so pligsgetrou en onbaatsugtig vir haar suster dat sy haarself en haar drome in die proses prysgegee het.

Om Soefie se lewe nog meer te kompliseer, het haar vlieënier-kêrel Nicolaas ’n droomgeleentheid om vir ’n internasionale lugredery te gaan werk en wil hy hê sy moet saam met hom Hong Kong toe trek. Sy besluit egter daarteen en word dan gekonfronteer met ’n liefde uit haar verlede – Nicolaas se broer, Jakes.

Reandi Grey (Diepe waters, Boer soek ’n vrou) is Soefie, en André Lötter (Binnelanders, Getroud met rugby) is Nicolaas. Bobby van Jaarsveld (Liefling, Spoorloos: Die eiland) is te sien as Jakes, en Blyde Smit (Troukoors, Spoorloos: Losprys) speel Katrien. Neil Sharim (Bakgat, Superhelde) is Danie, Katrien se geliefde wat sy op ’n kampnaweek ontmoet het en wat vir verskeie komiese oomblikke sorg.

Johan Scholtz (Getroud met rugby, Reënboogrant) en Brümilda van Rensburg (Egoli, Lui maar op, Belinda) is die twee broers se ouers, Brink en Elise. Brink probeer alles in sy vermoë om vir Jakes ’n vrou te kry. Elise sal weer enigiets doen om te keer dat een van haar seuns se harte gebreek word. Die jong akteur Dawian van der Westhuizen (Hen, Tjommies) is Thomas, Jakes se seun uit ’n vorige verhouding.

Die reeks speel, onder meer, af op die pragtige perdeplaas waar Brink en Elise saam met Jakes en klein Thomas woon. Kerstyd en die vieringe wat daarmee gepaardgaan, is deel van die verhaal wat temas soos liefde en verlies, familiebande teenoor individuele behoeftes en die moed om tweede kanse aan te gryp aanroer.

Die minireeks is deur Lizé Vosloo (Diepe waters, Alles Malan, Nul is nie niks nie) geskryf, en sy is ook die regisseur. Sunel Haasbroek, wat vir die kinematografie van Appels en tee verantwoordelik was, is agter die kamera, en die produksieontwerp is deur Liza du Plessis. Charlene van Rooyen was aan hoof van die kostuums en grimering. Die vervaardigers is Lizé Vosloo, Soné Combrink en André Velts van Sonvelt Media.

Ek, hy en jy begin 30 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. Die reeks bestaan uit drie episodes wat elk ’n uur lank is.



Die Koning van konings

Hierdie animasieprent, wat vroeër vanjaar as The King of Kings vrygestel is, is losweg gegrond op Charles Dickens se boek The Life of Our Lord. Dit vertel die verhaal van hoe Dickens probeer om sy A Christmas Carol by ’n teater in Londen voor te lees, maar hy lastig geval word deur sy energieke seun, Walter, wat die storie van Koning Arthur saam met sy kat, Willa, wil vertel.

Dickens oorweeg dit om sy seun te straf, maar sy vrou, Catherine, stel voor dat hy vir hom vertel dat daar ’n koning selfs groter as koning Arthur is: Jesus Christus, die Koning van alle konings.

Die Koning van konings word op 25 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Kokkedoor: Son en see

4 Desember

Die braaivure word aangesteek vir die Kokkedoortjie-wenner Edwin Theron wat cordon bleu na ’n steak-braai toe bring. Die kokke kikker vaal braaiterte op en maak vernuwende kampeerkos met flair.

11 Desember

Terwyl onweerswolke opsteek, takel die Kokkedore mekaar in ’n pannekoekresies. Die uitdaging om eenpotgeregte uit die dae voor die internet voor te berei laat ’n jakkals in die hoenderhok los.

18 Desember

Op Oukersaand roer ’n kinderkoortjie die hartsnare. Die Kokkedore is egter nie almal ewe opgewonde oor die tradisies van die Kerstafel nie – veral nie as dit by vrugtekoek en koekstruif kom nie.

25 Desember

Die luukse kouevleis en slaai van die Kerstafel word omskep in gourmet-toebroodjies. Die generasiespanne wys hulle ware kleure met souttert en lagieslaai. Hannes van Wyk is die piekniekgas.

Kokkedoor: Son en see word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.



Op pad met my potjie

5 Desember

Joalette kuier in Rehoboth by Hester en haar kleindogter, Aldine. Hulle neem Joalette op ’n toer deur die Basters se geskiedenis en kultuur. By die huis berei hulle ’n lamskenkelpotjie voor.

12 Desember

Joalette reis na Witvlei waar sy Antoinette en haar man, Chris, ontmoet. Hulle maak kaas en gaan op ’n wildbesigtigingsrit. Daarna kook hulle ’n rooibokpotjie wat met slaai en skyfies bedien word.

19 Desember

Joalette is in Keetmanshoop waar sy vir Emily besoek. Sy leer oor Emily se kunsvlyt en saam verken hulle die Suidedorp. Die twee maak uiteindelik ’n hoenderboudjiepotjie met stampmielies.

26 Desember

Joalette gaan kuier vir Bobby in Omaruru. Hy stel haar aan sy stokperdjies voor en wys haar rond in die dorp. Hulle koop bestanddele, en ná 'n lang dag maak hulle ’n heerlike varkvleispotjie.

Op pad met my potjie is Vrydae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.



Fanaties

3 Desember

Dis jakarandatyd, en Natie gaan ry ’n draai saam met lede van ’n veteraanmotorklub.

10 Desember

Natie besoek Elsie en haar versameling oudhede en gaan daarna na die kunstenaar Roger Ballen om stoele te verkoop en sy nuutste uitstalling te verken.

17 Desember

Natie toer deur die land. Hy stop by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein. Daarna gaan bewonder hy Viccie se Afrikana-stoelversameling in Villiersdorp. Sy reis eindig by die Milnerton-mark.

24 Desember

Dis die Groot Treinresies, en Natie vat sy pienk Ford om saam met ander ou karre teen ’n ou stoomtrein mee te ding. Daarna kyk ons of Sakkie en Natie met hulle oulike buiktenk-renmotor (belly tank racer) gewen het.

Fanaties is Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.



Chasing the Sun 2 – A Story for South Africa

Op 12 Desember om 20:00 begin die Emmy-benoemde dokumentêre reeks Chasing the Sun 2 – A Story for South Africa op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks volg die Springbokke se pad na hulle Wêreldbekeroorwinning in Frankryk in 2023.

Die regisseur is Gareth Whittaker, wat ook die regie van Chasing 1 behartig het. Die reeks is deur T+W vervaardig in samewerking met SuperSport en SA Rugby en geborg deur Toyota, Betway en Spur. Vir die maak van die reeks het SuperSport ongekende toegang tot die Springbokke se kleedkamers en oefensessies gekry. Só kan kykers presies sien hoe Rassie Erasmus, Jacques Nienaber en die afrigtingspan met die spelers gewerk het.

12 Desember

Die Springbokke kom in Frankryk aan vir hulle deelname aan die 2023 Wêreldbekertoernooi. Nie net is hulle in die strafste poel ingedeel nie – hulle pad na die eindstryd sit hulle op koers om teen al die sterkste spanne in die wêreld te speel.

19 Desember

Die Bokke is geskok wanneer Malcolm Marx op die krukkelys beland, maar hulle moet fokus op hulle grootste teenstander tot dusver in die kompetisie: Ierland.

26 Desember

Die vonke spat in die kleedkamer, en die Bokke berei voor op die fisies harde stryd teen Tonga. Maar die groter uitdaging is Frankryk – die gasheerland, wat vir Suid-Afrika in die halfeindstryd wag.

2 Januarie

Met Eben Etzebeth wat ’n geelkaart gekry het, moet die Springbokke ’n totale aanslag van die Franse afweer. Nog moeiliker: Hulle moet ’n nasie laat glo dat hulle al die hindernisse in die pad kan oorkom.

9 Januarie

Bongi Mbonambi word daarvan beskuldig dat hy rassistiese taal op die veld gebruik het, en die Springbokke moet voorberei vir die eindstryd teen hulle aartsvyande: die All Blacks.

Chasing the Sun 2 – A Story for South Africa se vyf episodes word uitgesaai terwyl Toks & Tjops ’n blaaskans vat. Die reeks begin op Vrydag 12 Desember om 20:00 en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Krone 2025 – net die ding om jou Oujaar mee uit te kuier

Op 31 Desember om 22:00 skop vanjaar se Krone-konsert op kykNET af, en dit gaan jou genoeg musiek en plesier gee om die nuwe jaar te groet.

Krone 2025 is op 30 Augustus by die Loftus-stadion in Pretoria opgeneem, en groot name soos Kurt Darren, Juanita du Plessis, Bobby van Jaarsveld, Brendan Peyper, Bernice West, Karen Zoid, Leah, Refentse, Snotkop en nuwelinge soos Barto, Die Piesangskille en Zaan Sonnekus was almal deel van die jolyt.

Kom beleef hierdie wêreldklasvertoning wat skitterende beligting en klank, dansers, ’n hele orkes en natuurlik Krone se unieke 360-grade-verhoog in die middel van die ikoniese Loftus Versfeld-stadion insluit. En dis nou bo en behalwe die sangers wat elkeen hulle alles gee.

Krone 2025 word op 31 Desember om 22:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.



fliekNET is terug met splinternuwe buffet van topfilms

Van 12 Desember 2025 tot 11 Januarie 2026 is een van kykNET se gewildste opwipkanale terug op die lug: fliekNET neem weer sy plek op DStv-kanaal 149 in met ’n groot, opwindende verskeidenheid speelfilms, kortfilms en dokumentêre. Dié kanaal sal beskikbaar wees aan alle intekenaars met Premium-, Compact Plus- en/of Add Movies-pakkette.

Om 12:00 op die twaalfde dag van die twaalfde maand – ja, 12:00 op 12/12 – begin die eerste van ’n rits flieks speel. Op die eerste aand is daar twee van die kort dokumentêre wat vanjaar by die Silwerskermfees geskitter het – Vet vannie land en Bliksems in Bothaville – op die program. Die geliefde en veelbekroonde speelfilm Hans steek die Rubicon oor word daarna om 21:00 uitgesaai.

En die res van die maand se aanbod steek glad nie by dié uitstekende openingsdagprogram af nie.

Al die kortfilms – verhalend en dokumentêr – wat vanjaar op die Silwerskermfees te sien was, is op die skedule. Dit sluit in Min of meer, wat die wenner van vier toekennings was – onder meer vir beste kortfilm deur ’n opkomende filmmaker en beste aktrise vir Liezl de Kock – asook Totsiens, Selina, wat die toekenning vir beste kortfilm deur ’n gevestigde filmmaker ingepalm het. Die bogenoemde dokumentêr Vet vannie land, het drie pryse gewen, wat die Silwerskermtoekenning vir beste kort dokumentêr insluit. Nog ’n kortfilm wat beslis op jou kyklysie hoort, is Noise & Neigbours, wat in 2024 by die Silwerskermfees gedebuteer het en onlangs bekroon is as die beste internasionale kortfilm by die Chelsea-filmfees in New York.

Verskeie ander treffers van die 2024 Silwerskermfees vorm ook deel van die maand lange spesiale vermaak op die fliekNET-program. Van hierdie rolprente sluit in Som van twee, Hier.Na en Old Righteous Blues. Ander gewilde speelfilms op die skedule is Pad na jou hart, Griekwastad, Barakat, Noem my Skollie en Beurtkrag. Ou gunstelinge soos Jakhalsdans, Hoofmeisie, ’n Pawpaw vir my darling, Nul is nie niks nie, Suurlemoen en Lien se lankstaanskoene maak ook ’n draai.

Ander móéts is die allerlieflike dokumentêre reeks Ruben in Namibië, asook die musiekdokumentêre Laurika se tuiskoms en Demi Lee Moore: ’n Nuwe era.

Klassieke rolprente is altyd ’n lekkerte. Een van die rolprente op die skedule is Debbie, wat in 1965 uitgereik is en die eerste Afrikaanse fliek met ’n ouderdomsbeperking was. Die prent was omstrede omdat dit die verhaal vertel van ’n ongetroude student wat swanger raak. Die ouderdomsbeperking was aanvanklik 16, maar is later na geen onder 21 verander.

Ander klassieke rolprente op die spyskaart sluit in Sien jou môre, Dingetjie is dynamite, Eendag op ’n reëndag en Tant Ralie se losieshuis.

fliekNET skop 12 Desember om 12:00 op DStv-kanaal 149 af. Dié opwipkanaal se laaste dag van uitsending is op 11 Januarie 2026.

O, schucks, daar is Leon Schuster trefferflieks in Desember

Oh Schucks ... It’s Schuster

6 Desember om 20:00

Die rolprent is in 1989 vrygestel en sluit, onder meer, die sketse in met die springende telefoon, die slang in die tas en die omroeper op Radio Jakaranda wat weier om na die regisseur te luister. Ruda Landman en Derek Watts is van die bekendes wat uitgevang is.

Sweet ’n Short

13 Desember om 20:00

’n Sportaanbieder is in ’n fratsongeluk en beland in ’n koma. Wanneer hy maande later sy bewussyn herwin, is dit die nuwe Suid-Afrika en besef hy met ’n skok dat hy sy werk, sy meisie en die fortuin wat hy by ’n casino gewen het, kwyt is. Dié fliek uit 1991 het vir Leon, Alfred Ntombela, Casper de Vries, Joanna Weinberg, Gerrit Schoonhoven en Ivan Lucas in die rolverdeling.

There’s a Zulu on My Stoep

20 Desember om 20:00

Twee seuns, een wit en die ander swart, was beste maats in Suid-Afrika tydens apartheid. ’n Voorval het ongelukkig ’n einde aan die vriendskap gemaak, maar wanneer hulle mekaar weer 25 jaar later raakloop, gaan hulle op die een avontuur ná die ander. Die fliek was in 1993 in teaters. Leon is te sien as Rhino Labuschagne, John Matshikiza is Zulu Mashabela, en Wilson Dunster speel General Diehard.

Oh Schuks ... I’m Gatvol

27 Desember om 20:00

Leon en sy wingman, Alfred Ntombela, besluit om Suid-Afrika te verlaat vir groener weivelde in Australië. Die reis daarheen is egter met duwweltjies besaai. Ook in die rolverdeling is Cobus Visser as Big Samoosa Woestyn, Bill Flynn as Ali Haque, Peter Ndoro as Captain Morgan, en Perlé van Schalkwyk, Portia Gumede en Juanita Strydom as die lugwaardinne van Vokov Air. Die fliek is in 2004 vrygestel.

Sepies



Binnelanders
Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Johan gooi sy gewig al meer by Binneland rond, maar hy moet versigtig wees om nie té veel aandag te trek nie. Die druk op Tertius neem voortdurend toe – van alle kante af. Nuus oor Laetitia skok die hele Binneland, en Tertius en Nicolette se lewens is in gevaar wanneer ’n gebou ineenstort en hulle in die kelder vasgekeer is.

Willem daag onverwags in Pretoria op, en dan ontmoet hy en Anya mekaar. Die spanning tussen Johan en Ella bereik breekpunt. ’n Geheim tussen twee kollegas het die potensiaal om hulle emosioneel op te vreet, en Joe en Petro deel ’n oomblik (of twee). Louis en Naomi ontmoet Hannah se ma, Jackie, en Binneland se nuwe locum-dokter, Elton Cloete, probeer sy bes om vir Bonnie te beïndruk. Nicolette maak ’n bekentenis wat Uys skok, en Bonnie doen ’n radio-onderhoud met Martin Bester oor beenmurgoorplanting. 



Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Nazeem loods ’n nuwe projek by die Royal en oortuig Wade om hom daarmee te help. Wade droom egter groter, en Lee-Ann bied haar hulp aan – mits sy die Royal se finansies mag deurgaan, wat natuurlik vir Nazeem paniekerig maak. Hy probeer deesdae om besigheid op ’n eerbare manier te doen, maar daar is ’n paar geraamtes in die Royal se kas.

Lee-Ann en Wade ontdek iets skokkends oor Nazeem. Gaan hulle dit wil ontbloot? Intussen vertrek Mymoena saam met Kaashifa en Rhafiek op Umrah, en Frankie raak oorweldig by Oos Wes totdat Riaan inspring om te help. Hulle aangetrokkenheid tot mekaar word al hoe duideliker, en dit raak vir hulle moeilik om dinge net vriendskaplik te hou.

Aiden se gevoelens vir Liné verdiep, maar sy fokus op Jenna se siekte. Bianca probeer die kerk moderniseer met ’n nuwe app, wat chaos veroorsaak en spanning skep. ’n Aantreklike maar geheimsinnige man vang Angie se oog, en dit lyk of die jaar dalk net op ’n hoë noot vir haar mag eindig. Frankie probeer ook haar ouers herenig oor Kersfees, maar is dit dalk makliker gesê as gedaan?



Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Arno en Karla se verhouding word getoets, terwyl Leandri alles in haar vermoë doen om vrede by die huis te herstel. Henry wroeg oor sy volgende stap met Lettie, en die dinamika tussen Juvan en Nina bly uiters gespanne. Intussen moet Gys sy pad vind tussen familiekwessies en verrassende ontmoetings wat alles kan verander.

Die vakansieseisoen bring sowel verrassings as uitdagings. Lettie word onkant gevang wanneer ’n bekende gas haar koffiewinkel besoek, en Gys voel nog die pyn van verraad binne sy familie. Joanna speel steeds ’n sleutelrol in die rigting van dié rondom haar, terwyl Marco, Schalk en ander die gevolge van geheime en besluite begin ervaar.

Terwyl die gemeenskap voorberei vir die Kerskonsert en langtafel-ete, is daar ’n kortsluiting tussen spanning en opwinding wat botsings veroorsaak. Met verhoudings wat op die proef gestel word en verrassings om elke draai, is die pad na die feestydvieringe allesbehalwe voorspelbaar.

kykNET&kie



Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Patty, Lukas, Ragel, Kevin en Gloria bevind hulself almal by draaipunte waar hul keuses groot gevolge kan dra.

Patty en Lukas se verhouding bereik ’n hoogtepunt wanneer hulle vrede maak ná ’n tyd van onsekerheid. Hy nooi haar op ’n romantiese wegbreek, en dit lyk of geluk uiteindelik aan hul kant is. Maar toe Patty vasgebind in ’n afgeleë huis wakker word, verander haar droom skielik in ’n nagmerrie. Terwyl Ruan en sy span desperaat probeer om haar te vind, probeer Patty vergeefs om te ontsnap. Sal sy betyds gered word? En hoe het sy haarself in hierdie situasie gekry

Gloria se pad lei haar na ’n emosionele afskeid en nuwe insigte. Sy nader Hazel met ’n desperate versoek en word gedwing om moeilike besluite oor haar toekoms te neem. Terwyl haar vriende haar help om aan te beweeg, dra sy steeds die las van Hazel se geheim. Wanneer sy uiteindelik haar afskeidsgeleentheid hou, word sy verras deur buitengewone oomblikke – en gekonfronteer met haar verlede en haar verhouding met Kevin.

Intussen worstel Ragel met herinneringe wat lank begrawe was. Haar planne met Louis en Amber begin vrugte afwerp, maar pynlike flitse uit haar verlede ruk haar van balans af. Sy word stil en teruggetrokke, en teen Kersfees moet sy ’n dapper besluit neem om vrede te maak met wat was.



Dikker as water

Maandae tot Donderdae om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Ömer konfronteer vir Kayhan oor sy vennootskap met Fatih. Kayan saai onmin tussen Fatih en sy oom. Doğa en Fatih gaan eet aandete saam met Fatih se vriend Ilhan, en hy ontstel Doğa met sy seksistiese grappe.

Selfs nog meer ontstellend vir Doğa is Fatih se fassinasie met Ilhan. Kıvılcım spreek haar huiwering teenoor Fatma uit om die verhouding met Ömer verder te laat gaan. Fatih breek die nuus aan sy gesin dat hy ’n hotel gekoop het.

Dikker as water is van Maandae tot Donderdae om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.



Koortjies met Elwira Standili

7 Desember

Hierdie week kyk ons hoe ’n vol lewe met gestremdhede kan lyk. Crystal Joseph en Tarryn Tomlinson inspireer met hul stories, en Crystal sing die studio aan die brand. 

14 Desember

Myles Minnaar van The Village Guy praat oor dié positiewe platform. Kaapstad se junior burgemeester, Michael-Daniel Bam, vertel meer oor sy projekte. Chané Mack is die gaskunstenaar.

21 Desember

Kom in die regte stemming vir die feesseisoen met Koortjies se jaarlikse spesiale Kersfees Skouspel. Soos altyd bring ons vir jou heerlike musiek en lieflike Kers-boodskappe.

28 Desember

Jou Nuwejaarsmakietie is geboek. Kom roep 2025 vaarwel en sluit die jaar af met ’n keurspel van heerlike musiek en ’n paar van jou gunsteling-gaskunstenaars.

Koortjies met Elwira Standili is op Sondae om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Romantiese komedie uit Namibië in Desember op kykNET&kie


’n Splinternuwe TV-film, wat in samewerking tussen kykNET en MultiChoice Namibië  onder die sambreel van hulle Ombura-projek gemaak is, debuteer 7 Desember op kykNET&kie (DStv-kanaal 145). #OppiPlaas is ’n romantiese komedie wat wys watter lekker stories ons buurland kan vertel.

Zoë Veii verlaat haar werk in die korporatiewe wêreld en begin haar eie onderneming wat op sosiale media fokus. Sy is ’n stadsmeisie in murg en been, maar wanneer haar nuwe besigheid sukkel om op sy voete te kom, stem sy halfhartig in om ’n boer as kliënt te neem. Die boer, Armand van Wyk, is baie gemaklik met die tradisionele lewe en is skepties oor hierdie moderne manier van bemarking.

Gys Labuschagne is Armand se buurman en beste vriend en die een wat hom aan Zoë voorstel. Gys se suster, Alletta, het nog altyd ’n ogie op Armand gehad, maar is sy werklik die vrou vir hom? Of gaan die liefde wys dat geen kloof onoorbrugbaar is wanneer daar ’n vonk tussen ’n stadsmeisie en ’n plaasjapie is nie?

Nguundja Kandjii is te sien as Zoë, en Vaughn Ahrens, wat ook die klankbaan van #OppiPlaas geskep het, speel Armand. Charl Botha is Gys, en Jénica Engelbrecht is Alletta. Sandile Mondlane vertolk die rol van Zoë se voormalige baas, Mark Sipho, en Ula Brand is Jenny Cloete, Zoë se beste vriendin.

Tjiurimo Kandji het die draaiboek geskryf, en Hein van Zyl is die regisseur. #OppiPlaas is vervaardig deur die produksiemaatskappy Skeleta en is in sy geheel in Namibië verfilm.

#OppiPlaas première op 7 Desember om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.