Resepte kopiereg: Carmen Niehaus
Grenadella en Perske Spritzer
Carmien se Cold Brew tees wat in koue water getrek word, maak nie net die lekkerste ystees nie, maar is ook ideaal om die heerlikste drankies op te tower. Dit maak ‘n gesonder ystee, want dit bevat geen suiker nie, maar word effe versoet met natuurlike stevia-blaartjies, wat nie ‘n bitter nasmaak soos die poeier het nie.Carmien se Cold Brew-reeks is spesiaal ontwikkel om met koue water gemaak te word. In die koue water word meer geure stadiger oor tyd onttrek en verskaf sodoende ‘n tee met ‘n gladder, skoner en soeter smaak, want met die koue water word ‘n ander chemiese balans onttrek as met warm water.
Maak 2 drankies
Bereiding: 10 min
325 ml (1⅓ k) appelsap
3 Passion Peach rooibosteesakkies
30 ml (2 e) Carmien suurlemoenstroop or Lemmetjie Cordial
ys
250 ml (1 k) lemonade, tonikumwater of selfs sprankelwater
1 Giet die appelsap in ‘n houer en voeg die teesakkies by. Laat staan minstens ‘n minuut lank sodat die tee lekker kan trek.
2 Voeg suurlemoenstroop by en baie ys.
3 Vul dan verder aan met lemonade of tonikumwater of sprankelwater.
SEMEL-POTBROOD MET SMERE
Hierdie broodjie is ideaal om te maak as jy op safari is. Dis geskoei op die eertydse bierbrood, maar word nou met natuurlike jogurt gemaak en kry ook nog kaas in wat help om proteien te verskaf. Die vars knoffel en rooi ui (pleks van soppoeiers wat soms voorheen bygevoeg is) verskaf nie net ‘n heerlike smaak nie, maar ook baie goedheid. Knoffel help baklei teen bakterieë en virusse, selfs parasiete terwyl ui baie antioksidante bevat, help vir beter hartgesondheid, bloedsuikervlakke help reguleer, sorg vir verhoogde beendigtheid en ook sekere kankers kan help beveg.
500 g bruismeel met semels
Knippie sout
125 ml (½ k) gekapte stingeluie
2 knoffelhuisies, fyngedruk
50 g sterk Cheddarkaas, gerasper
500 ml (2 k) natuurlike jogurt
1 rooi ui, gehalveer
Halwe knoffelbol
Paar stingeluie of bossie grasuie
Paar stukkies fetakaas
seesoutvlokkies
Voorverhit die oond tot 190°C. Spuit ‘n klein swartpotjie of kastrolletjie goed met kossproei.
1 Meng die bruismeel, sout, gekapte stingeluie, knoffel en kaas goed. Voeg die karringmelk by en meng tot ‘n sagte, maar nie slap deeg.
2 Skep in die pot of kastrol
3 Rangskik die rooi uie en knoffelbol bo-op en pak ‘n paar stingeluie of ‘n bossie stingeluie langsaan. Druk stukke peperfeta-kaas tussen-in. Sprinkel seesoutvlokkies oor.
4 Bak sowat 1h20 minute tot gaar. Sit voor met ‘n biltongkaassmeer of eiervrugsmeer (sien resep) of olyfsalsa.
SMERE
Pleks van botter en konfyt, geniet ons die potbrood met ‘n geurige smeer. Enige van hierdie smere smaak heerlik saam met die potbrood.
BILTONGMAASKAASSMEER
Meng fyn biltong, sterk fyn gerasperde Cheddarkaas, gekapte grasuie met gladde geroomde maaskaas. Voeg ‘n knertsie brandewyn by.
EIERVRUGSMEER
Prik 2 eiervrugte en bak 30 min by 180°C. Trek die vel af en verpulp saam met 10 ml (2 t) fyn komyn, 1 blik kekerertjies, wat gedreineer is, 2 fyngedrukte knoffelhuisies, 45 ml (3 e) suurlemoensap, knippie sout, 10 ml (2 t) geroosterde sesamsaad en 60 ml (1/4 k) olyfolie.
OLYFSALSA Kap 4—6 swart olywe fyn op, breek ‘n wiel peper-fetakaas in stukke, meng met 1 gekapte knoffelhuisie,handvol gekapte pietersiele en pampoenpitte en genoeg olyfolie.
SWAKOPMUND-SEEKOSPOT
Potjiekos was bykans daaglikse spyse as ons met vakansie in Namibië was. En as jy naby die kus vakansie hou, kan mens nie anders as om ‘n seekospot voor te berei nie. Hierdie resep het ek nog by die befaamde Namibiese spysenier en kookboekskrywer, Antoinette de Chavonnes Vrugt, gekry. Tydens die oorlog in 1970’s het baie Angolese van Portugese afkoms na Namibië gevlug en hul veral in Windhoek en op groter dorpe gevestig waar hulle groentemarkte, hoender- en braairestaurante begin het. Die Portugese invloed is veral te sien in Namibiese seekosgeregte soos gebraaide steurgarnale en paella.
Vis en seekos is ‘n belangrike bron van omega 3 vetsure. Hierdie nutrient help om die hart en brein gesond the hou. Ons liggame produseer nie self omega 3-vetsure nie, die enigste manier om dit in te kry is deur die kos wat ons eet.
Genoeg vir 8—10 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: ongeveer 40 min
1 ui, in kwarte gesny
1 elk rooi, geel en groen soetrissie, ontkern en in blokkies of repe gesny
3 selderystingels, gekap
6 knoffelhuisies, fyngedruk
60 ml (¼ k) olyfolie
1 liter (4 k) visaftreksel of groenteaftreksel
250 ml (1 k) Piekenierskloof grenache noir
10 ml (2 t) paprika
5 ml (1 t) fyn komyn
3 lourierblare
5 ml (1 t) suiker
2 blikke (400 g elk) gekapte tamaties
1 blik (400 g) gekapte tamaties met kruie
2 rooi brandrissies, ontpit en gekap
50 g tamatiepasta
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
1 kg vars vis, ontvel en ontgraat en in blokkies gesny
Gegeurde meel
2 kg bevrore seekos bv, steurgarnale, calamari, mossels
Sout en varsgemaalde peper na smaak
Knippie saffraan
Carmien groen rooibostee, indien nodig
Groot handvol pietersielie en koljanderblare om af te rond
1 Braai die ui, soetrissies, seldery en knoffel in die olie tot sag. Voeg die aftreksel, wyn, speserye, lourierblare, suiker en tamaties by asook die brandrissies, tamatiepasta, suurlemoensap en -skil.
2 Bring tot kookpunt en laat 15—20 minute prut tot geurig.
3 Stuif die visblokkies met gegeurde meel en braai in ‘n bietjie olie tot net effe bruin buite-om. Hou eenkant
3 Voeg die seekos by die pot, geur met sout en peper en voeg die saffraan by. Voeg bietjie groen rooibostee by indien nodig, bring tot kookpunt en laat prut ongeveer 10—15 minute lank tot die seekos net-net gaar maar nie stukkend gekook is nie.
5 Skep in ‘n opdienskottel of diep borde.
6 Rond af met pietersielie en koljanderblare en sit voor met vars brood.
DELUXE NEUTBESKUIT
Ons is nooit sonder ‘n blik beskuit of twee as ons op safari is nie. Dit staan in vir ontbyt saam met koffie en is net so lekker saam met ‘n heerlike koppie stomende rooibostee, veral ‘n koppie Carmien Relax wanneer jy uitspan by jou staning of net voor bedtoe-gaantyd. Hierdie beskuit wemel van die goedheid met baie vesel, sade en neute. Dit bevat minder suiker en ek maak dit ook met klapperolie, wat alhoewel dit ‘n versadigde vet is, het dit ‘n unieke molekulêre struktuur wat help om liggaamsvet te verbrand en cholesterol te verlaag. Verder word dit aangemaak met Carmien se Relax rooibostee wat nie net klompe antioksidante verskaf nie, maar die mengel van rooibos en natuurlike kamille verleen ook ‘n natuurlike kalmerende effek en help om slapeloosheid en angstigheid te verminder.
Maak 60—80 beskuite
Voorbereiding 20 min
Baktyd: 50—60 min
Uitdroog: oornag
375 ml (1½ k) witbroodmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) koeksoda
5 ml (1 t) sout
500 ml (2 c) volkoringmeel
250 ml (1 c) hawermout
160 ml (⅔ c) suiker
125 ml (½ c) sonneblomsaad
125 ml (½ c) pampoenpitte
250 ml (1 c) bosbessies
250 ml (1 c) neute, gekap
250 g klapperolie, gesmelt
375 ml (1½ c) louwarm Carmien Relax Camomile, gemaak met 6 sakkies
15 ml (1 T) appelasyn
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n oondpan met kossproei.
1 Sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam in ‘n groot bak. Voeg die res van die droë bestanddele by en meng goed.
2 Meng die klapperolie, rooibostee en asyn saam.
3 Voeg by die droë bestanddele en meng goed. Plaas in die voorbereide pan en maak gelyk.
4 Bak for 50—60 minute of today ‘n toetspen skoon uit die middel van die brood kom.
5 Keer uit en laat afkoel op ‘n draadrakkie. Sny in vingers, pak in ‘n enkellaag op ‘n bakplaat.
6 Droog uit by 90°C tot heeltemal droog. Bewaar in ‘n lugdigte houer.
Vir verdere informasie oor voedingswaardes, gesonder eet en resepte, raadpleeg die boek Lekker&Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid deur Carmen Niehaus, uitgegee deur LAPA.