Vir Katryn is styl ’n manier waarop jy jouself uitdruk.
“Dis anders as mode, want mode kan jy altyd koop. Styl is hoe jy dit jou eie maak,” is haar uitgangspunt.
Sy het van jongs af reeds haar merk op die modewêreld gelaat danksy haar eiesoortige styl en voorkoms. Die 15-jarige Katryn is destyds deur ’n modelagent in ’n winkelsentrum raakgesien, en op 16 het sy ’n kontrak met IMG Models gesluit, een van die grootste modelagentskappe ter wêreld.
Dit was ook die jaar toe die toonaangewende modetydskrif British Vogue haar as “one of the best new faces” uitgesonder het. Kort voor lank het sy met wêreldbekende modehuise, waaronder Givenchy, Prada, Louis Vuitton, Dolce & Gabbana, Valentino en Ralph Lauren gewerk.
Daar was ook veldtogte in samewerking met Oscar de la Renta, Dior, Prada en Coach. En die jong Kapenaar het ook gereeld in internasionale tydskrifte soos Vogue, Harper’s Bazaar, Elle en Marie Claire verskyn.
Volgens een van die beoordelaars van die kompetisie, Paul Venter (vervaardiger van Bravo!), is daar met die Bravo! Revlon-stylikoonveldtog gesoek na ’n skynbaar moeiteloos goed versorgde persoon met ’n leefstyl en gedrag waarna mense sal opkyk – iemand wat jou respek en aandag verdien en nie afdwing nie. Nes Katryn.
Vir die modekenner en voormalige Elle-redakteur Jackie Burger was dit Katryn se besadigde selfvertroue wat uitgestaan het. Sy verpersoonlik onderbeklemtoonde, tydlose en ware estetiese styl.
“Katryn herinner ons daaraan dat styl nie oor perfeksie gaan nie, maar oor teenwoordigheid.”
Volgens Heather Goate, bemarkingsdirekteur van Revlon, vier die Bravo! Revlon-stylikoonkompetisie vroue wat hul eie unieke styl besit en trots hul persoonlikheid deur mode en grimering wys – in lyn met dit waarvoor Revlon staan. Dit onderskryf ook hul Live Boldly-filosofie.
“Suid-Afrikaanse vroue verstaan hoe om mode en grimering as ’n vorm van selfuitdrukking en krag te gebruik, en dit is iets wat Revlon met trots vier,” het sy gesê.
Die drie ander finaliste:
Yasmin Furmie (61) is ’n inhoudskepper en sakevrou van Johannesburg wat sterk besig is om haar handelsmerk, SiSi, uit te brei. Haar styl is deur Jo-Ann Strauss, beoordelaar en voormalige Mej. Suid-Afrika en sakevrou, as elegant en edgy beskryf.
Lezanne Viviers (31), ’n modeontwerper van Johannesburg wat haar handelsmerk, Viviers, in 2019 van stapel gestuur het. Volgens Heather Goate beskik sy oor ’n unieke voorkoms en wese.
Elana Brundyn (55) van Kaapstad is ’n kunskurator, die voormalige uitvoerende direkteur van die Zeitz MOCAA-museum en ’n stigterslid van die Norval-stigting. Elana se tydlose en treffende styl word ook weerspieël in haar veelvlakkige kunsgalery, Brundyn Arts & Culture, in die Kaapse middestad, asook die uitsonderlike beeldetuin by die Boschendal-wynlandgoed.
- ’n Bravo!-episode wat die aankondiging van die wenner wys, word op 13 November 2025 om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.