web uni tv guide
web uni tv guide

Op My Eish!

144RealiteitPG13

Eerste twee dames pak hulle tasse in Op my eish! – en die emosies loop hoog 

Nuus30 Januarie 2026
Episode drie van Op my eish! het ’n nuwe fase in Ruan se soektog na liefde ingelui toe hy die eerste keer twee dames se harte moes breek.
Op my eish S4 Ep 3 Article Image

Episode drie van Op my eish! het ’n nuwe fase in Ruan se soektog na liefde ingelui toe hy die eerste keer twee dames se harte moes breek. Ná ’n paar dae vol avontuur, oop gesprekke en groeiende konneksies, was dit uiteindelik Chantelle Wilson en Carmen wat hul tasse gepak het en huis toe gestuur is – ’n besluit wat duidelik nie ligtelik geneem is nie. 

Voor die emosionele afskeid het die episode egter met spanning, humor en intieme oomblikke gewys hoe kompleks die reis na potensiële liefde vir Ruan in der waarheid is. 

Die episode het begin met Ruan wat sy eerste twee anonieme briefies van ’n dame ontvang – sonder dat hy weet wie dit geskryf het. Vasbeslote om antwoorde te kry, het hy tydens ’n foefieslaaid-aktiwiteit probeer uitvind wie agter die boodskappe sit, maar die vroue het tjoepstil gebly. Die ses deelnemers wat nie die boereworsrolletjie-kompetisie gewen het nie – Chantelle Smith, Chantal, Maritha, Bejanke, Jenine en Hermi – het aan die hoogte-avontuur deelgeneem. Dit het gou duidelik geword dat hoogtes nie Ruan se ding is nie, en tussendeur het hy gebieg: “Hierdie raak nou bietjie wild, hoor.” 

Die groep het daarna langs die rivier gaan piekniek hou, waar Ruan oopgemaak het oor hoe oorweldigend die ervaring soms vir hom is. “So baie meisies wat moeite doen, ek weet dit lyk aangenaam, en natuurlik is dit nice dat almal bereid is om hier te wees. Maar dis rêrig moeilik,” het hy tydens die groepafspraak gesê. 

Ruan het Chantelle Smith eerste vir alleentyd gevra, waar hulle gesels het oor hoe die reis tot dusver verloop het. Omdat Chantelle later as die ander dames aangesluit het, was dit vir Ruan belangrik om haar beter te leer ken. Hy het ook Hermi vir alleentyd gevra, en hul gesprek het dieper gegaan toe sy meer oor haar persoonlikheid gedeel het en vir Ruan groter insig gegee het in wie sy is. 

Later het Ruan die geleentheid gehad om een dame op ’n persoonlike afspraak te neem, en hy het Maritha gekies. Die gesprek het emosioneel geraak toe Ruan haar gevra het waarom sy nie in ’n verhouding is nie. Maritha het vertel dat sy twee jaar tevore verloof was, maar dat haar verloofde oorlede is – ’n oomblik wat Ruan diep geraak het. Hy het haar eerlikheid en kwesbaarheid opreg waardeer. Ná middagete het hy haar verras met ’n pottebakkery-klas, waar daar duidelike vonke was. Ná die afspraak het Maritha gesê: “Hy gee vir my butterflies. Hy’t mooi oë, en ek hou van sy lagplooie. Hy is baie real.” 

Vir die tweede aktiwiteit in die episode het Ruan vyf dames gekies vir ’n sintuiglike uitdaging: Chantelle Wilson, Bejanke, Minette, Cindy-Lee en Carmen. Met blinddoeke aan moes die vroue hul sintuie gebruik om te raai wie Ruan en wie sy tweelingbroer, JP, is. Al vyf dames was in die kol. Daarna het die groep na die dek beweeg vir ’n drankie, waar Ruan Minette vir alleentyd gekies het. Sy het meer van haarself vertel, en daar was duidelike aantrekking tussen hulle. 

Ruan het ook Bejanke vir alleentyd gevra en openlik erken dat daar reeds ’n konneksie van sy kant af was. “Ek het nog nie gedelf in hoe sy voel nie, maar daar is iets spesiaals aan haar. Ek kan rêrig nie wag om haar beter te leer ken nie,” het hy gesê. 

Toe die dames terugkeer, het Cindy-Lee, Bejanke en Chantelle Wilson besluit om vir die ander dames ’n poets te bak deur te sê dat Minette en Carmen huis toe gestuur is. Dit het later duidelik geword dat dit net ’n grap was, maar die aand het reeds ’n ernstige toon gehad. Toe Ruan opdaag en Cindy-Lee, Carmen en Chantelle Wilson vir ’n groepafspraak vra, het dit aanvanklik gelyk asof al drie dalk huis toe gestuur sou word – ’n oomblik waar die spanning ook vir kykers tasbaar was. 

Uiteindelik het Ruan die moeilike besluit geneem om afskeid te neem van Carmen en Chantelle Wilson. Daarna het hy en Cindy-Lee ’n intieme oomblik gedeel wat gewys het hoe emosioneel gelaai die aand was. 

Vir Chantelle Wilson was die Op my eish!-reis een van groei en selfontdekking. “Dit was vir my ’n spesiale ervaring, en ek is dankbaar dat ek dit kon beleef. Dit het my uit my gemaksone geneem en my baie oor myself geleer,” het sy gesê. Om huis toe te gaan het sy rustig aanvaar: “Ek glo dinge gebeur soos dit moet, en liefde kan nie geforseer word nie.”  

Carmen het haar ervaring beskryf as veel meer as net ’n soektog na liefde. “Dit was eerlikwaar ’n ongelooflike avontuur. Dit het my laat lag, laat dink oor die lewe en my hart laat oopgaan,” het sy gesê. Al was dit teleurstellend om huis te moet gaan, was daar ook vrede. “Soms beteken huis toe gaan nie die einde van ’n storie nie, maar net die begin van ’n nuwe hoofstuk.” Carmen het gesê sy glo steeds onwrikbaar in liefde –  “liefde wat jou laat gekies voel, veilig laat voel en rustig laat asemhaal.” 

Op my eish! word elke Donderdag om 20:00, net op kykNET (DStv-kanaal 144), uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream beskikbaar.