’n Splinternuwe groep spelers in die skadu van die Outeniekwaberge en twee keer meer drama. Dít word alles belowe in die lokprent van die tweede seisoen van Die brug – die avontuur-realiteitsreeks wat spelers fisies en geestelik uitdaag tot een uiteindelik as die wenner aangewys word.
Die eerste seisoen was ’n treffer by kykers en is ook vir ’n internasionale Emmy-toekenning benoem, ’n reuse pluimpie vir almal betrokke. In Die brug moet spelers saam werk om ’n brug te bou om by die skat – ’n stewige R1 miljoen – uit te kom, maar dié reeks het meer kinkels as ’n bol staalwol. Nes die spelers én die kykers dink hulle weet wat kom, besluit die mense wat die toue agter-die-skerms trek: Wag net so ’n bietjie ...
Neil Sandilands is weer die verteller, maar om te weet wie die deelnemers is, gaan kykers geduldig moet wees. Hou kykNET se sosiale media- platforms dop om op hoogte van sake te bly.
- Die tweede seisoen van Die brug begin op Donderdag 8 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.