Baartman, wat tans as Lettie in kykNET (DStv-kanaal 144) se gewilde telenovela Diepe Waters te sien is, vertel dat sy die nuwe verwerking van Algoabaai as ’n besondere uitdaging ervaar het: “Die lirieke is deurdrenk met pyn, verlange en verraad – dis ’n liefdesdriehoek wat skeur. Om dit op die verhoog te sing, vra nie net tegniek nie, maar ook emosionele waarheid. Ek moes my hele hart en stem daarin gooi.”
Sy het haar televisie-debuut gemaak in die derde seisoen van Supersterre in 2010, waarna sy vinnig kykers se harte gewen het as Bianca “Bibi” Bhele in Getroud met Rugby. Vandag word sy as een van die sterk vrouekarakters in Diepe Waters herken, waar sy ook die diepte van emosie en dramatiese spel toon – ’n vermoë wat perfek aansluit by haar vertolking van Algoabaai.
Regisseur Frans Swart beskryf Stephanie se vertolking as die spilpunt van die nuwe verwerking: “Met net Josua Oosthuizen op kitaar en Stephanie se ongelooflike stem, het ek geweet ons het hier iets besonders. Haar dramatiese interpretasie laat jou die woorde vir die eerste keer écht hoor.”
Musiekregisseur Chanie Jonker, wat die verwerking gedoen het, beklemtoon dat die liedjie se donker verhaal juis deur Stephanie se stem tot sy reg kom. “Sy dra die teleurstelling en rou pyn só rou en eerlik oor dat die gehoor dit letterlik in hul bors voel,” sê Jonker.
Met hierdie enkelsnit gee Stephanie Baartman, saam met Lefra Produksies, nie net hulde aan Gé Korsten nie, maar wys sy ook hoe ’n klassieke liedjie nuwe lewe kan kry – só relevant en aangrypend soos op die dag toe dit die eerste keer gesing is.
Stephanie is as Lettie in die kykNET-telenovela Diepe Waters te sien. Ook beskikbaar op DStv Stream and Catch Up.