#DiePelleVanPotch
Mens sou nooit kon raai dat dié twee nog nooit ‘n projek soos dié aangepak het nie. Juan-Louis en Elri het die beoordelaars beïndruk met hoe hulle die spasie benut het en slim gebou het om hulle eenheid te laat uitstaan. Hierdie duo se begroting het ook ’n hupstoot gekry presies toe hulle dit benodig het. Gaan hulle strategie vir hulle die miljoen bring?
#DieDeftigeDuo
Klaas en Yvett se minimalistiese ontwerp gee vir die beoordelaars ’n moeilike besluit om te maak. Alhoewel dié eenheid se muurpapier en kaggel die “wow factor” gee voel die beoordelaars dat daar net nie genoeg pakplek is nie. Gaan dié duo aanpassings maak of hou by hulle plan en hoop dat die eindproduk die beoordelaars anders gaan laat voel?
#DieSussiesVanBloemfontein
Alicia en Claudia se reis op Klein paradys was alles behalwe maklik. Die konflik en moedeloosheid was egter nie genoeg om dié twee onder te kry nie! Die sussies het elke keer ’n manier gevind om weer op te staan en aan te hou baklei vir die wen. Na ’n moeilike paar weke kom Alicia en Claudia se visie nou duidelik deur in hulle eenheid en dié twee hoop om ’n onvergeetlike “comeback” te maak in die kompetisie.
#DieSkoonFamilie
Hierdie duo wil hê dat mense ligter moet voel wanneer hulle in dié eenheid bly en tot dusver hou die beoordelaars van wat hulle sien. Tydens die slaapkamer-fase het die beoordelaars egter gevoel dat dié twee meer kon doen om die spasie besonders te maak. Johan en Lee-Ann se planne het hulle die eerste wenners van die kompetisie gemaak en nou hoop hulle dat die eindproduk die beoordelaars se asems gaan wegslaan.
#DieEklektieseEgpaar
So naby, maar tog so ver. Maggie en Gerrie se unieke ontwerpstyl kom baie duidelik deur in hulle kleurvolle eenheid, maar hierdie duo was met elke sterremonie net-net agter die wenners. Die besluit om vir weke lank nie by hulle kinders te wees nie was vir dié twee baie moeilik, maar hulle herinner hulself elke liewe dag hoekom hulle dié uitdaging aangepak het. Gaan Maggie en Gerrie uiteindelik ’n wen kry wanneer dit die meeste saak maak?
#DieJongVerliefdes
Dié duo is vol selfvertroue na ’n groot wen by die laaste sterremonie en twyfel nie vir ’n oomblik in wat hulle wil bereik met hierdie eenheid nie. Jannie en Mika het van die begin af gewys dat hulle baie kompeterend is, sterk idees het en hulle tyd goed kan bestuur. Hierdie duo het ook 3 ekstra ure gehad om aan hulle buite-area te werk en met almal wat jaag om klaar te maak kan hierdie voordeel ’n groot verskil maak!
Skakel hierdie Donderdag om 20:00 in en gesels saam deur die hutsmerk #KleinParadys te gebruik op Facebook, Instagram, X en TikTok