kyknet channel logo

Die kantoor – ’n Afrikaanse weergawe van The Office begin in Januarie op kykNET en Showmax

Nuus24 November 2025
“Die kantoor” saai vanaf 18 Januarie om 20:00 uit op kykNET.
Die kantoor

  • Die Safta- en Silwerskerm-wenner Bennie Fourie (Hotel) is die skrywer en regisseur.
  • Die 2025 Fleur du Cap-wenner Albert Pretorius vertolk die hoofrol as die kantoorbestuurder.
  • Die ensemble sluit, onder andere, in Schalk Bezuidenhout, Lida Botha, Carl Beukes en Ilse Oppelt.


Die Afrikaanse stroomdiens Showmax is tans besig met die vervaardiging van ’n Suid-Afrikaanse weergawe van die wêreldwye trefferformaat The Office, onder lisensie van BBC Studios.



Die eerste aflewering word Sondag 18 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai, en op Dinsdag 20 Januarie is daar ’n dubbeldoorlagdosis wanneer die eerste twee episodes op Showmax beskikbaar sal wees.

Dit was meer as 20 jaar gelede toe die wêreld uitgeboul is deur die saai maar skreeusnaakse mokumentêre wêreld van The Office, geskep deur Ricky Gervais en Stephen Merchant. Metacritic lys die oorspronklike Britse weergawe as die mees bekroonde komediereeks van alle tye. Die Amerikaanse weergawe het vyf Emmys gewen, insluitend die toekenning vir beste komediereeks, en was die mees gestroomde program ter wêreld in 2020.



Hierdie universele gewildheid het daartoe gelei dat die Bafta- en Golden Globe-bekroonde kultuskomedie oor die hele wêreld verwerk is vir kykers in ander lande, waaronder Australië, Frankryk, Kanada, Chili, Israel, Indië, die Midde-Ooste en Pole.

Die Suid-Afrikaanse en hoofsaaklik Afrikaanse weergawe van The Office, wat Die kantoor genoem word, is die 14de verwerking van dié formaat.



Rapid Blue, deel van BBC Studios, vervaardig hierdie Showmax Original-reeks, met BBC Studios wat die  globale verkope hanteer.

Die Safta- en Silwerskermwenner Bennie Fourie is die hoofskrywer en regisseur. Hy is die medeskepper van Hotel, wat ’n Safta vir beste TV-komedie gewen het, en vertolk Baltus in die bekroonde mokumentêre reeks Magda Louw.



“Dit is 'n groot eer om die program te kan maak,” sê Bennie. “Toe ons destyds met Hotel begin het, was dit die tipe reeks wat ons wou naboots. Ek dink nie ons was toe gereed om dit te maak nie, maar ná 10 jaar van speel met die mokumentêr-genre, is nou die ideale tyd vir ons om dit te doen. Alles het regtig in plek geval, en ons is baie opgewonde.”

Bennie stel dit duidelik dat hy nie net The Office in Afrikaans vertaal het om dit skoot vir skoot met plaaslike akteurs te herskep nie. Hy het dit binne ’n plaaslike konteks heeltemal nuut verbeel. “Suid-Afrika is nie die VK nie, en dis ook nie die VSA nie, en ons wou seker maak dat dit regtig weerspieël word,” sê Bennie.



Dit het begin deur die kantooromgewing te verander van ’n papieronderneming na Deluxe Processed Meats, wat in polonie spesialiseer.

“Suid-Afrika is ’n nasie van trotse vleisliefhebbers,” sê Bennie. “Van biltong tot droëwors tot steak – baie Suid-Afrikaners vind ’n deel van hulle identiteit in die vleis wat hulle eet. Maar polonie is nie op daardie lys nie. Dit is net so flippen pienk. As jy rondom ’n braai staan, is die laaste ding wat jy wil sê, dat jy passievol oor polonie is. Veral ná daardie uitbraak van listeriose.”



Vanuit die hoofkantoor, Deluxe Meats (wat in meer gesofistikeerde vleise spesialiseer), word op die personeel neergesien, en niemand by Deluxe Processed Meats voel hul posisies is veilig nie, aangesien ’n BBBEE-konsortium onlangs ’n groot deel van die maatskappy gekoop het.

Rapid Blue, wat ook Is’thunzi vervaardig (wat aan Thuso Mbedu twee Internasionale Emmy-benoemings besorg het), het ’n mengsel van bekende én vars gesigte bymekaargemaak vir Die kantoor, gelei deur die 2025 Fleur du Cap-wenner Albert Pretorius (Niggies; Nêrens, Noord-Kaap) as Flip, die kantoorbestuurder.



“Flip is nog net die afgelope jaar die bestuurder, maar hy is opgewonde om die dokumentêre span te verwelkom,” sê Bennie. “Hy voel dit is sy Chasing the Sun, en sy inspirerende opgang na die kruin van sakesukses moet vir dié wat na hom volg op film vasgelê word.”

Deel van die ensemble is ook die Safta-wenner Schalk Bezuidenhout (Kanarie, Hotel), die legendariese veteraan Lida Botha (Die Kwiksilwers), Carl Beukes (Jozi, The Shakedown), Silwerskermwenner Ilse Oppelt (Oh Schuks I’m Gatvol, Fishy Fêshuns), Daniah de Villiers (Mia in Mia and the White Lion), Mehboob Bawa (Bhai in Bhai’s Cafe), voormalige KFM-aanbieder Sipumziwe Lucwaba en die nuweling Gert du Plessis.



“Ons heel eerste Showmax Original was die mokumentêre reeks Tali’s Wedding Diary. So, om die mees ikoniese mokumentêr van almal te herverbeel, was ’n volle-sirkel-oomblik vir ons,” sê Tracy-Ann van Rooyen, uitvoerende hoof van inhoud by Showmax, deel van MultiChoice, ’n CANAL+-maatskappy.

Die aankondiging kom toevallig terwyl Suid-Afrika in die algehele derde plek by vanaand se Internasionale Emmy-toekennings in New York staan met ’n rekordgetal van vyf benoemings: Showmax se Koek (drama) en Catch Me a Killer (aktrise: Charlotte Hope), M-Net se School Ties (dokumentêr), SuperSport se Chasing the Sun 2 (sportdokumentêr) en Play Room Live (kindervermaak).



Terwyl jy wag vir die Suid-Afrikaanse weergawe in Januarie, kan jy weer die Amerikaanse The Office, Seisoen 1-9, op Showmax geniet.