Logo

Diaan en Tinarie skitter in nuwe dramareeks vir kykNET

Nuus
05 September 2025
“Bloed is dikker, maar tee is sterker.” Dít is die lokreël van Appels en tee, kykNET se splinternuwe dramareeks wat op 21 Oktober begin.
Appels en Tee

In Paradysbos lyk Lisa Rossouw se lewe perfek. Sy bestuur ’n florerende teetuin saam met haar gerespekteerde man en voorbeeldige seun. Wanneer die De Klerks met hulle motor voor die teetuin in ’n ander kar vasry, verskyn haar langverlore vriendin Henriëtte weer ná 27 jaar. Is dit toeval, of die noodlot? Die De Klerks het hulle plaas verloor, en Lisa bied vir hulle ’n heenkome tot hulle weer op hulle voete is. Dit bring herinneringe terug en krap ou wonde oop. 

Die dramareeks beweeg tussen die hede en die Langkloof in die negentigs waar Lisa en Henriëtte hulle hegte tienervriendskap en drome deel, maar ’n reeks donker geheime die twee uiteindelik uitmekaardryf. 

Met die vriendinne se herontmoeting, moet Griet, Henriëtte se ma, en Jakkals, Lisa se pa, hulle eie seer en wrokke in die gesig staar. Annie, Henriëtte se dogter, moet met haar doofheid vrede maak en vorm ’n ongewone vriendskap met Lisa se seun, Francois. Kraakvars appels simboliseer die onskuldige verlede, terwyl tee – nes ware vriendskap –  medisyne vir die hede bring. Dis ’n grootwordverhaal waarin verskillende generasies ’n nuwe lewensfase moet aandurf.

Diaan Lawrenson speel die rol van Lisa, en Tinarie van Wyk Loots is Henriëtte. Griet word vertolk deur Rika Sennett, en Bianca Langedyk is Annie. Lisa se man, Dawid Rossouw, word deur Ivan Zimmermann gespeel, en Neels van Jaarsveld is Henriëtte se man, Wessel de Klerk. Ian Roberts is Jakkals Boshoff, en Jacques Erasmus speel die rol van Lisa en Dawid se seun, Francois. Hannah Borthwick, Rika Sennett se aktrise-dogter, speel die jong Griet, en Hendrik Cronjé is die jong Jakkals. Anya Human is Lisa, en Nicola Nothnagel is Henriëtte in 1998. Ander spelers sluit Viljé Maritz, Moses Williams, Beata Bena en Marlo Minnaar in. 

Tina Kruger is die hoofskrywer en uitvoerende vervaardiger met Berdene Burger en Gita Fourie as medeskrywers. Berdene is ook die regisseur en vervaardiger van die reeks en eienaar van Meerfout Films. Die reeks is in die Langkloof, Hoekwil en op die Tuinroete verfilm. Tasché en Janine Neethling is vir die temaliedjie verantwoordelik. 

“Daar is iets vir elkeen in die reeks,” sê Berdene. “Ons vier vrouwees, maar kyk ook na die uitdagings van die hedendaagse pa en man. Hoe hou mens aan voorsien ten spyte van groeiende ekonomiese druk? Hoe bind geheime ons? Wat gebeur wanneer liefde taan? Vryheid is slegs moontlik wanneer die waarheid seëvier. Ouer word beteken nie dat daar nie tweede kanse is nie. Vergifnis hoef nie te laat te kom nie.”

Oor die rolverdeling sê Berdene: “Ons was op soek na twee sterk vrouens om die hoofrolle te vertolk, en Diaan en Tinarie het ontsagwekkend daarin geslaag om die verskillende fasette van vrouwees en ma-wees met soveel sensitiwiteit uit te beeld. Rika en Ian was voor die hand liggende keuses vir die ouer karakters, en ons het vars talent in Bianca en Jacques gevind. Neels en Ivan was ons twee ankers as die mans in Lisa en Henriëtte se lewens.” 

  • Appels en tee begin op Dinsdag 21 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.