In episode vier van Op my eish! het ’n nuwe wending in Ruan se liefdesreis tot ’n dramatiese mengsel van romanse, verrassings en ’n moeilike afskeid gelei. Tussen geheimsinnige briefies, groeiende konneksies en die seisoen se eerste soen, moes een dame haar tasse pak – net toe nóg ’n nuwe deelnemer haar opwagting gemaak het.
Aan die begin van die episode het Ruan en JP saam hardop gewonder oor die twee dames wat reeds huis toe gestuur is, voordat JP aangekondig het dat die dag se uitdaging ’n touch rugby-wedstryd sou wees. Die wenspan sou die geleentheid kry om ’n safari-wildrit saam met Ruan te onderneem. Net voor die aktiwiteit het JP ’n anonieme briefie aan Ruan oorhandig met ’n leidraad wat later ’n groot rol sou speel.
Ruan het een span afgerig, en JP was die ander span se afrigter én skeidsregter, iets wat Ruan grapperig bevraagteken het: “Dis ’n win-lose. Jy kan nie teen die ref speel wat die coach vir die ander span is nie.” Maritha, Minette, Hermi, Caitlin en Cindy-Lee was in JP se span, terwyl Bejanke, Jenine, Chantal, Chantelle en Charlene in Ruan se span was.
JP se span het uiteindelik gewen, maar Caitlin kon nie die wildrit bywoon nie en het Charlene gevra om in haar plek te gaan.
Op die rit het die dames gou probeer om strategies sitplekke te kies, maar Ruan het eerste vir Charlene gevra om alleentyd saam met hom te spandeer. Hul gesprek was diep, en dit was duidelik dat daar ’n opregte band tussen hulle gevorm het. Ruan het ook tyd gemaak vir Minette en later vir Hermi. Hy en Hermi het eerlik gepraat oor hoe belangrik hulle kinders vir hulle is – veral as dit by verhoudings kom.
Tussen die ernstige gesprekke was daar ook ligter oomblikke, soos toe Cindy-Lee, Minette en Charlene ’n bokdrolspoegkompetisie gehou het met Maritha as skeidsregter.
Aan die einde van die wildrit het Ruan vir Cindy-Lee gekies om hom te vergesel vir aandete in die bosveld. Ruan het verduidelik: “Ek en Cindy verstaan mekaar op ’n ander manier. Sy is net iemand met wie jy outomaties gemaklik voel.”
Die aand het geëindig met ’n groot mylpaal toe Cindy die seisoen se eerste soen van Ruan gekry het – ’n oomblik wat gewys het hoe lekker die liefdesvuur reeds brand.
Die volgende dag het ’n groepafspraak gevolg waar Chantal, Chantelle, Jenine, Bejanke en Caitlin saam met Ruan op ’n e-bike-avontuur gegaan het. Jenine het eerste alleentyd gekry, en die gesprek het emosioneel geraak toe sy oopgemaak het oor ouerskap en oor hoe sy haar kinders alleen grootmaak.
Daarna het Ruan vir Caitlin gevra vir alleentyd, en hy wou weet of sy werklik nog deel van hierdie avontuur wil wees. Sy het erken sy het nog tyd nodig om seker te word oor haar gevoelens.
Ruan se laaste een-tot-een-gesprek met Chantal het die briefie-raaisel finaal opgelos. Chantal het erken sy was die een wat vir hom geskryf het en het nog twee briefies oorhandig. Maar voordat Ruan dit kon lees, het hy ’n moeilike besluit geneem en haar huis toe gestuur. Omdat hy reeds sterker konneksies met ander dames gehad het, het hy gevoel dit was nie regverdig om haar langer van haar seuntjie weg te hou nie.
Vir Chantal was die Op my eish!-ervaring emosioneel maar leersaam. “Dit het my uit my gemaksone geneem en my laat dink oor wie ek is en wat ek regtig soek,” het sy gesê. Al was dit seer om te groet, het sy verlief geneem daarmee dat dinge nie altyd volgens plan verloop nie: “Ek moes aanvaar dat dinge nie altyd uitwerk soos ek gehoop het nie, maar ek weet Liewe Jesus beplan iets anders vir my lewe.”
Sy voel sy het gegroei tydens die ervaring: “Ek het meer oor myself geleer, my eie waarde beter leer verstaan en hoe ek my gevoelens kan hanteer.”
Hoewel haar reis korter was as wat sy gehoop het, het Chantal gesê sy glo steeds in liefde: “My liefde vir my seuntjie het my gewys wat liefde regtig is – onvoorwaardelik.” Sy het bygevoeg dat sy tans fokus op haar kind en hul toekoms en vertrou dat die regte persoon op die regte tyd sal opdaag.
Terwyl die dames weg was, het JP egter nog ’n verrassing aangekondig: ’n Nuwe wild card, Saartjie Erlank van Pretoria, het haar opwagting gemaak. “Vir my is die belangrikste eienskap in ’n lewensmaat Christenskap. Die klein goedjies in die lewe beteken vir my baie,” het die nuwe aankomeling gesê.
Toe Ruan en die ander dames terugkeer en vir Saartjie ontmoet, was almal bekommerd oor waar Chantal is – en Ruan moes die nuus van haar afskeid breek. Maar met Saartjie nou in die prentjie, was dit duidelik dat die dinamika in die groep weer eens drasties sou verander.
Op my eish! is elke Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.





