Botterskorsietert
5 eetlepels meel
1 koppie suiker
3 koppies gaar en fyngmaakte botterskorsie
1 teelepel sout
3 eiers, geklits
3 ½ eetlepels sagte botter
1 koppie room
½ teelepel kaneel
Voorverhit oond tot 160° C. Plaas fyngemaakte botterskorsie in ’n mengbak. Voeg sout, kaneel, eiers, suiker, meel en room by. Meng goed. Voeg botter by en meng weer. Smeer ’n bak met botter. Voeg mengsel by en maak glad aan die bokant. Bak vir 90 minute. Laat effens afkoel voor bediening.
Vaalkospotjie
5 kg bokvleis (nek en skenkel)
2 medium uie
1 kg klein aartappels
5 groot wortels
3 groot soetrissies, een elk in groen, geel en rooi
½ koppie Worcestershiresous
½ koppie suurlemoensap
3 eetlepels roosmaryn- en knoffelspeserye
3 eetlepels braaispesrye
3 gaar wit mielies
1 kg spiraal-pasta
3 – 4 eetlepels skaapvet
Skil die wortels en aartappels. Sny een ui in dik ringe en die ander een in kwarte, en die soetrissies in repe. Sny die mielies in kleiner stukke.
Maak ’n vuur en plaas jou potjie op dit. Voeg die skaapvet by wanneer die potjie warm is en voeg die uieringe by. Braai vir sowat drie minute. Voeg die vleis by en roer goed. Voeg die Worcestershiresous, helfte van die suurlemoensap en die res van die skaapvet by en braai die vleis tot dit alkante bruin is, ongeveer 20 minute.
Voeg die res van die suurlemoensap, die speserye en sout na smaak by. Roer tot alles gemeng is en laat dit sonder ’n deksel vir 10 minute kook. Voeg die aartappels, wortels en mielies by, asook genoeg water om alles te bedek. Laat kook vir nog 30 minute.
Voeg die ui wat in kwarte gesny is by, asook die spiraal-pasta. Indien dit nog water benodig, voeg genoeg by om alles te bedek. Kook vir 15 minute. Voeg die soetrissies by tot dit sag is, ongeveer 5 tot 7 minute.
Bedien warm met die botterskorsietert as bykos.
Skakel Vrydae om 18:30 in vir splinternuwe episodes van Op pad met my potjie. Jy kan ook saam gesels op Facebook, Instagram, TikTok en X deur die hutsmerk, #OpPadMetMyPotjie te gebruik.
