web uni tv guide
kykNET_Bewonder_&_Bewaar_S2_Slim_BB
web uni tv guide

Bewonder & Bewaar Met Bonné De Bod

144NatuurPG13

Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod is terug met ’n nuwe seisoen vol adrenalien, avontuur en onvergeetlike natuurskoon

Nuus09 Maart 2026
Bonné de Bod keer terug na kykNET vir die derde seisoen van Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod, wat op 19 April om 20:30 begin.
Bewonder en bewaar

Die nuwe seisoen neem kykers op ’n reis na van die mees afgeleë en skouspelagtige plekke op aarde, van Suid-Afrika se Krugerwildtuin en die Namib-woestyn tot sneeubedekte berge in Noord-Amerika en die kristalblou waters van die Karibiese See.

Saam met vooraanstaande navorsers, wetenskaplikes en veeartse onthul Bonné die geheime van wilde diere en ontmoet sy die mense wat hul roeping uitleef deur elke dag in die natuur te werk.

In hierdie seisoen deel kykers in adrenaliengelaaide avonture wat Bonné nog nooit vantevore aangepak het nie. Sy het van die mees intense oomblikke van haar lewe beleef toe sy saam met die wêreldbekende haaifluisteraar Cristina Zenato in die Karibiese See gaan duik het.

“Dit is ’n wonderlike storie, maar dit gaan oor veel meer as net om tot op die bodem te duik en haaie te sien wat verby jou swem. Hierdie is ’n vrou wat pynlike vishoeke uit die monde van hierdie wilde seeroofdiere verwyder. Die haaie nader haar, gaan lê in haar skoot en laat haar dan só toe om die hoeke te verwyder.”

Cristina het reeds meer as 400 vishoeke uit haaie se monde verwyder, en haar werk het Bonné diep geraak: “Dit is ’n toonbeeld van hoe een persoon ’n verskil kan maak, en hoe ongelooflik dapper is sy nie.”

Vir Bonné was hierdie ervaring nie net fisies uitdagend nie, maar ook emosioneel en persoonlik: “Ons almal moet op een of ander stadium in ons lewens vrees oorkom. En hierdie was vir my een van daardie oomblikke. Ek was uit my gemaksone.”

Sy vertel hoe intense angs haar net voor die duik amper oorweldig het. Dit was egter nie die haaie wat hierdie vrees ontlok het nie, maar die ekstra 10 kg van die kettings aan die duikpak. Gelukkig het die natuur haar weer tot bedaring gebring: “Toe ek eers onder die pragtige kristalblou waters van die Bahamas was, het die kalmte die sement uit my are gestoot, en ek het my lyf teruggehad.”

Op land was daar ook geen tekort aan adrenalien nie. In die Krugerwildtuin het Bonné by dr. Peter Buss en die SANParke-veeartsspan aangesluit vir ’n nagoperasie waarin die beroemde leeutroppe van Satara met verdowingspyltjies geskiet is sodat die eerste X-strale van vrylopende leeus in die wêreld geneem kon word. Omdat die operasie in die nag plaasgevind het, is termiese sensors gebruik om die leeus op te spoor en hul bewegings te monitor – amper soos ’n nagvisie-verkyker. Die tegnologie het die span in staat gestel om te sien waar die leeus is sonder om hulle met helder ligte te verskrik en ook om te bevestig dat die pyle suksesvol getref het. Die beeldmateriaal van die termiese verkyker – waar die leeu in swart-en-wit verskyn met net die pienk pyl sigbaar – bied ’n ongelooflike en seldsame blik op hierdie baanbrekersnavorsing.

“Dit was natuurlik gevaarlik – jy kan nie in die nag sien nie. Die res van die trop loop rond; hiënas loop rond.”

Nog ’n fisiese uitdagende ervaring was die verfilming in die sneeubedekte Sierra Nevada-berge in Kalifornië, waar Bonné saam met navorsers die majestueuse reuse-sequoia-bome moes klim.

“Dit was baie moeilike toestande om in te verfilm, maar ons moet na hierdie ‘ongemaklike’ plekke geneem word, want dit is waar die navorsing plaasvind.”

Tussen die ikoniese roofdiere en epiese landskappe het ’n klein soogdiertjie Bonné ook onverwags diep ontroer – die klaasneus.

“Om die klaasneus van naby te kan sien, sjoe! Hulle is pragtige klein skepseltjies. Die lewens wat hulle lei, is ’n wêreld waarvan ons nie bewus is nie,” vertel Bonné.

Die seisoen skop af met ’n kragtige episode oor die verwoestende vloede wat die Krugerwildtuin in Januarie 2026 getref het. Dié keer word die impak deur die oë van bekende karakters uit vorige seisoene beleef; mense wat kykers reeds leer ken het en wat self eerstehands deel was van die rampverligtingspogings.

Bonné vergesel, onder andere, die park se hoofvlieënier, David Simelane, in ’n helikopter na die noorde van die wildtuin, waar die skade van bo sigbaar word – die ineengestorte sementblokke van die Letaba-brug, en die Shimuwini-bosveldkamp wat vanuit die lug as ’n verwoeste landskap ontvou, met rondaweldeure wat langs die rivierbank lê.

“Ek kon nie met ’n goeie gewete ’n reeks uitsaai sonder om die vloede in my gunstelingplek op aarde aan te spreek nie. Dit wys vir ons almal dat die natuur kragtig is, ja, maar ook hoe kragtig dit is wanneer mense bymekaarkom en hande vat.”

Die res van die seisoen bied ’n ryk verskeidenheid avonture en ontdekkings. Kykers sien, onder meer, hoe Cassie Carstens die bedreigde sekretarisvoël in die Dronfield-natuurreservaat monitor en hoe Naude Dreyer en sy span robbe langs Namibië se kuslyn van plastiek bevry.

Ander hoogtepunte sluit in die Kruger K9-honde-eenheid met Samuel Madelane, die unieke flora van die Richtersveld saam met Pieter van Wyk, die endemiese Knysna-seeperdjie met Clement Arendse, Namibië se “superkrag-goggas” saam met dr. John Irish, en die klein gekolde kat met dr. Jessica Humphreys.

Gepantser met Bonné se opregte warmte en intieme vertelstyl, word kykers op ’n inspirerende en hoopvolle reis geneem wat nie net die diere en hul habitats wys nie, maar ook die menslike passie en toewyding agter elke bewaringspoging.

“Daar is soveel slegte nuus daar buite. Hierdie is goedvoel-TV wat inspireer en hoop gee in ’n tyd waar ons dit broodnodig het,” sê Bonné.

Die bekroonde regisseur Susan Scott vang hierdie natuurlike wêreld in skouspelagtige 4K-beelde vas – van sneeubedekte berge tot die oseaan, bosveld-savanne en woestynduine.

Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod word vervaardig deur Scott & de Bod Films, ook bekend vir dokumentêre soos STROOP, Kingdoms Van Vuur, Ys & Feëverhale en reekse soos Africa’s Wild Wonders. Die tweede seisoen van Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod is benoem vir ’n SAFTA in die Beste natuurgeskiedenis- en omgewingsprogram-kategorie.

Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod begin op 19 April om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Catch Up en Stream beskikbaar wees. Die reeks het Engelse onderskrifte