Logo
web uni tv guide

Spoorloos

144Drama13 L

5 dinge wat jy van Spoorloos: Losprys moet weet

Nuus
26 Augustus 2025
Spoorloos: Losprys begin op 26 Augustus 2025 om 20:00 op kykNET, kanaal 144.
Spoorloos

Spoorloos: Losprys is die jongste seisoen van dié immergewilde dramareeks, en die eerste episode word op 26 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Hier is vyf dinge as lusmaker vir die nuwe seisoen.

  • Losprys is die vyfde seisoen in die Spoorloos-reeks. Die eerste een was net Spoorloos getitel en is in 2018 uitgesaai. Daarna het Spoorloos: Heksejag in 2020, Spoorloos: Steynhof in 2021 en Spoorloos: Die eiland in 2022 gevolg.
  • Hierdie is die eerste keer in tien jaar wat Angelique Pretorius, bekend vir haar werk in Binnelanders, Hartland en Lien se lankstaanskoene, weer in ’n Afrikaanse reeks speel. Die Amerikaanse rolprent Mind Thief (2022) waarin sy die hoofrol gespeel het en die medeskrywer van was, het verskeie toekennings gewen, onder meer vir beste rolprent en beste draaiboek by die Boston Science Fiction Film Festival, beste rolprent en beste aktrise by Film Invasion L.A., en beste rolprent by die Los Angeles Film Awards.
  • Laudo Liebenberg het drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer en is ’n stigterslid van die rockgroep aKING. Hy was die hoofsanger van die produksie Eet kreef! wat in 2020 die Fiësta-toekenning vir Beste musiekgedrewe produksie gewen het. Beide Laudo en Angelique het in die Amerikaanse TV-reeks Black Sails gespeel wat buite Kaapstad verfilm is.
  • Die akteur Deon Coetzee speel vir die derde keer in Spoorloos. Hy was Werner Malan in die eerste seisoen en Freek Lambrecht in Spoorloos: Die eiland.
  • Een van die skrywers van Spoorloos: Losprys is Mitzi Booysen wat haar loopbaan as aktrise begin het, maar in die vroeë 1990’s ’n draaiboekskrywer vir Egoli geword het. Sy was die hoofskrywer van Binnelanders en het ’n allemintige 3 906 episodes op haar kerfstok. Mitzi was ook betrokke by die sepies Isidingo en Scandal! en die dramareeks Lioness.

Spoorloos is van Dinsdag 26 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.