web uni tv guide
web uni tv guide

Appels En Tee

144Drama13

5 dinge oor 'Appels en tee' wat jy moet weet

Nuus21 Oktober 2025
Vanaand skop kykNET se nuwe dramareeks, Appels en tee, om 20:00 af.
Appels en Tee

Soos die lokreël sê: “Bloed is dikker, maar tee is sterker”. 

Hier is vyf dinge wat jy moet weet: 

1.    Lisa Rossouw bestuur ’n florerende teetuin in Paradysbos in die Suid-Kaap saam met haar gerespekteerde man en voorbeeldige seun. Wanneer die De Klerks met hulle motor voor die teetuin in ’n ander kar vasry, verskyn haar langverlore vriendin Henriëtte weer ná 27 jaar. Is dit toeval, of die noodlot? Die De Klerks het hulle plaas verloor, en Lisa bied vir hulle ’n heenkome tot hulle weer op hulle voete is. Dit bring ou herinneringe terug en krap ou wonde oop. 

2.    Die dramareeks beweeg tussen die hede en die Langkloof in die negentigs waar Lisa en Henriëtte ’n hegte tienervriendskap gehad het, maar ’n reeks donker geheime die twee uiteindelik uitmekaargedryf het.

3.    Met die vriendinne se herontmoeting, moet Griet, Henriëtte se ma, en Jakkals, Lisa se pa, hulle eie wonde en wrokke in die gesig staar. Annie, Henriëtte se dogter, moet met haar doofheid vrede maak en vorm ’n ongewone vriendskap met Lisa se seun, Francois. 

4.    Die Rossouws se rolle word vertolk deur Diaan Lawrenson (Lisa), Ivan Zimmermann (Dawid) en Jacques Erasmus (Francois). Ian Roberts speel Lisa se pa, Jakkals. Anya Human is die jong Lisa, en Hendrik Cronjé is die jong Jakkals. Die De Klerks is Tinarie van Wyk Loots (Henriëtte), Neels van Jaarsveld (Wessel) en Bianca Langedyk (Annie). Rika Sennett is Henriëtte se ma, Griet. Hannah Borthwick speel die jong Griet. Ander spelers sluit Viljé Maritz, Moses Williams, Beata Bena en Marlo Minnaar in. 

5.    Die reeks is in die Langkloof, Hoekwil en op die Tuinroete verfilm. Tasché en Janine Neethling is vir die temaliedjie verantwoordelik. 

  • Appels en tee begin op vanaand Dinsdag 21 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.